Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wees katvoet vir swendelaars, bedrieërs

Die Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB) het Maandag die publiek gewaarsku oor ’n vals e-pos wat die rondte doen waarin misdadigers, wat hulself as bankpersoneel voordoen, mense om die bos lei.

“Die NDB stuur nie e-posse of enige ander kommunikasie waarin mense gevra word om ’n persoonlike bankrekening oop te maak, geld oor te betaal of persoonlike inligting te verskaf nie,” sê Monale Ratsoma, direkteur-generaal van die NDB se streeksentrum in Afrika.

“Sulke kommunikasie is bedrieglik. Mense moenie daarop reageer nie en dit onmiddellik by die polisie aanmeld,” sê Ratsoma.

Volgens Ratsoma stuur swendelaars ’n e-pos of ’n ander vorm van kommunikasie wat lyk asof dit van ’n betroubare bron soos ’n bank afkomstig is met persoonlike inligting soos identiteitsnommers, paspoortnommers, adresse of kontakbesonderhede wat ingevul moet word.

Sulke kommunikasie is bedrieglik. Mense moenie daarop reageer nie en dit onmiddellik by die polisie aanmeld.

Bedrieërs gebruik dan hierdie inligting om bank- of kleinhandelrekeninge oop te maak of lenings aan te gaan waarvoor die slagoffer dan aanspreeklik voor is. Hulle kan selfs probeer om mense na te boots, toegang tot bankrekeninge kry en transaksies uit te voer.

“ ’n Ander weergawe van bedrog is om ’n baie aanloklike lening of ’n ander vorm van finansiering teen ’n lae rentekoers aan mense te bied. Die ontvanger van die e-pos of boodskap word dan gevra om ’n administrasiefooi of ander voorafbetaling te doen om vir die lening te kwalifiseer. Die aanbod is dikwels vir ’n beperkte tydperk om mense te probeer druk om daarop te reageer,” waarsku Ratsoma.

“Die NDB is nie ’n kommersiële bank en maak nie rekeninge vir individue oop nie. Die NDB staan ook nie lenings of enige ander vorm van finansiering aan die publiek toe nie. Die NDB finansier wel infrastruktuur- en volhoubare ontwikkelingsprojekte in opkomende ekonomieë en ontwikkelende lande,” verduidelik Ratsoma.

Die publiek kan hulle so teen bedrog beskerm:

  • Wees baie versigtig om op ongevraagde boodskappe te reageer. Onthou dat swendelaars verskillende kanale insluitende e-posse, selfone en sosiale media gebruik. Verifieer alle versoeke om persoonlike inligting en verstrek dit slegs as daar ’n wettige rede daarvoor is.
  • Wees agterdogtig oor e-posse of boodskappe wat spelfoute of grammatikale foute of ander teenstrydighede bevat.
  • Wees versigtig vir versoeke om voorafbetalings of betaling vir goedere of dienste wat jy nie bestel het nie, veral as jy versoek word om ’n ongewone betaalmetode te gebruik.

Besoek die webtuiste www.sabric.co.za vir meer inligting oor slenters.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.