Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Wees net sterk. As hulle my skiet, is dit niemand se skuld nie.’

‘Wees net sterk. As hulle my skiet, is dit niemand se skuld nie.” Só het Gerda Toms (46) haar tienerseun verlede Vrydag gerusgestel nadat kapers met ’n blou lig hulle afgetrek en ontvoer het.

Gerda Toms en haar seun is in hul eie motor ontvoer toe ’n motor met blou ligte hulle van die pad afgetrek het. Foto: Deon Raath

Toms, van ’n landgoed in Kempton Park aan die Oos-Rand, het omstreeks 15:00 met haar man, Morné, se wit 2021-Land Cruiser na die Loskopdam gery om haar 16-jarige seun te gaan oplaai nadat hy aan die Suid-Afrikaanse kunsaashengelproewe deelgeneem het. Morné was vir werk in Namibië.

Hulle was omstreeks 19:40 al op die N12 buite Johannesburg toe daar skielik blou ligte agter hulle verskyn. Die motor het haar van die pad gedruk. Sy het stadig tot by die geelstreep gery en stilgehou. Dit was reeds pikdonker en Toms het haar venster op ’n skrefie oopgemaak.

’n Man in ’n donkerblou uniform het gevra wat op die agtersitplek lê. “Ek het gesê dis kamptoerusting, toe vra hy of hy kan kyk. Toe ek die knoppie druk om die deure oop te sluit, het hulle die twee voorste deure en een agterdeur oopgeruk.”

Die man het bo-op Toms geklim en haar en haar seun, wat langs haar gesit het, tussen die sitplekke deur, agtertoe gedruk, tot op die vloer. ’n Derde man het agter langs hulle gesit.

Toms se hande is agter haar rug en haar seun s’n voor sy lyf met kabelbinders vasgemaak.

Ek het vir drie dae ‘non-stop’ gehuil. Dis maar deel van die proses.

Sy kon haar hande uit die kabelbinders wring en het aan haar seun se gesig gevat en hom saggies probeer gerusstel.

“Een man het vir my gesê om nie Afrikaans te praat nie, maar Engels. Ek dink dit was sodat hy kon verstaan. Hulle het ’n Suid-Afrikaanse aksent gehad.”

Ná 90 minute het hulle in ’n veld ingery. “Ek het gedink hulle gaan my verkrag of ons skiet.”

Dis toe wat sy haar seun gerus gestel het dat dit nie sy skuld sou wees as sy sterf nie.

“Die kapers het ordentlik met mekaar gepraat.”

Die mans het die slagoffers se selfone gekloon.

Toe Toms se 14-jarige dogter bekommerd raak en haar ma bel, het die oproep op een van die kapers se fone gelui. “Een man het vir my gesê om te antwoord, maar niks te laat blyk nie.”

Sy het haar dogter gerusgestel dat hulle weens ’n motorongeluk langs die pad opgehou word.

Net daarna het Morné gebel. Dieselfde kaper het sy wysvinger oor sy keel getrek as waarskuwing.

Om 21:08 het Morné ’n kennisgewing van die opsporingsmaatskappy gekry dat hul toestel van die hoofbattery ontkoppel is.

“Toe weet ek iets is fout. Toe Tracker my bel, wou hulle nog storietjies praat. Ek het net gesê ‘go!’ Ek het hulpeloos gevoel, want ek sit in Namibië.”

Nadat hulle in die veld ingery het, het die kapers ’n mes teen haar seun se keel gehou terwyl hulle eers sy hande en toe hare losgeknip het. “Die man het gesê ons moet tien minute wag en dan begin loop.”

Carnival City is just there,” het hy beduie.

Toms en haar kind het begin loop in die rigting van wat soos fabrieke gelyk het. Ná sowat drie kilometer was hulle terug op ’n teerpad. Toe ’n voertuig by ’n hek uitry by wat soos ’n meenthuiskompleks gelyk het, het hulle daarheen begin hardloop. “Toe kom ’n polisiekar uitgery. Toe is ek bang, want toe dink ek wat as die kar geplant is?” sê Toms.

Dié keer was dit gelukkig ’n regte polisiebeampte. Hy het vir Toms sy selfoon gegee om haar dogter te bel en het hulle na ’n polisiekantoor geneem.

“Ek het vir drie dae non-stop gehuil. Dis maar deel van die proses,” sê Toms.

Sy wil mense waarsku om nie stil te hou wanneer iemand met blou ligte jou ná sononder aftrek nie. “Bel iemand, al ry jy stadiger.

“Die polisie is saam met my terug na die toneel toe en hulle het spesifiek gesê jy stop nie in die nag nie, behalwe by ’n padblokkade waar daar baie motors is. Dit gaan nou vir my absoluut oor die bewusmaking van mense.”

Hennie Els, ’n forensiese ondersoeker, sê dit is moontlik dat Toms se oproepe op die kaper se foon gelui het omdat hulle die foon met behulp van ’n app ge­kloon het.

Meer oor:  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.