Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wegkommotor tref dominee se motor

’n Dominee van Gordonsbaai in die Wes-Kaap het hom Dinsdag boeglam geskrik toe gewapende rowers wat ’n juwelierswinkel in die Somerset-Wes-winkelsentrum beroof het in sy motor vasgejaag het.

Dr. Jannie le Roux, predikant van die NG kerk Gordonsbaai, se motor is net ná 10:30 deur een van die wegkommotors getref nadat ’n groep rowers op die juwelierswinkel African Diamond toegeslaan het.

Dr. Jannie le Roux, predikant van die NG kerk Gordonsbaai. Foto: Verskaf

Hulle het in verskillende voertuie gevlug, waaronder ’n wit enkelkajuitbakkie wat in Le Roux vasgejaag het.

Die bakkie het Le Roux se Volkswagen Polo regs voor teen die buffer getref en dit amper afgeruk. Le Roux is gelukkig nie beseer nie.

“Alles het so vinnig gebeur,” sê hy.

“My eerste gedagte was: Het ek my nou misgis? Was die lig regtig groen vir my om te draai?”

Le Roux wou regs draai in Centenary-rylaan in die rigting van die winkelsentrum vir ’n afspraak by Mugg & Bean.

“Ek het die voertuie teen hoë revolusies hoor aankom. Die bakkie het oor die rooi verkeerslig gery en my motor se neus getref. Hy het reguit aangery, amper asof hy in die Stodels-winkel gaan vasry.

“Sekondes daarna toe kom nog ’n voertuig verby. Ek was geskok,” sê hy. Dié voertuig het hom nie getref nie.

“Ek het toe stadig regs gedraai en op die sypaadjie van Centenary-rylaan geparkeer waar ek uitgeklim het om die skade te bekyk. Dit is toe dat daar ’n menigte voertuie verbygekom. Dit was polisie- en sekerheidsvoertuie.”

Mense het by Le Roux gestop om te kyk of hy hulp nodig het. “Ek was oukei, maar ek moes my vriend bel om my te kom haal terwyl my motor weggesleep word.

“Ek weet nie wie die versekering se bybetaling gaan dek nie, behalwe as die rowers dalk ’n diamant of twee oorgehou het,” skerts Le Roux.

Volgens inligting het die rowers die personeel in die winkel aangehou, van die glasvertoonkaste stukkend geslaan en van die juweliersware geroof.

Dr. Jannie le Roux se Volkswagen ná die ongeluk. Foto: Verskaf

Veiligheidswagte het een van hulle in die winkelsentrum aangekeer en die res het in motors gevlug.

Van die rowers is ná ’n jaagtog op die N2 naby Khayelitsha voorgekeer. Een van hulle is in ’n oor-en-weer-skietery met die polisie dood en ’n ander een is gewond. Twee het weggekom en word nog gesoek.

Van die juweliersware is ook teruggekry.

“Die goeie nuus is dat ek nou nog ’n storie het as ek motiveringspraatjies moet gee,” sê Le Roux.

“Sjoe, skrikwekkend,” skryf iemand op Facebook. “Dankbaar dr. Jannie is veilig! Dit kon soveel erger gewees het.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Gordonsbaai  |  Botsing  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.