Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Weldoener vang tiener ‘per abuis’ vir aanval op 2 hengelaars

Waarskuwing: Hierdie berig bevat ’n grafiese foto wat sommige lesers kan ontstel.

’n Goeie samaritaan wat ’n tienerseun vasgetrek het nadat hy ’n vrou se selfoon uit haar hand gegryp het, het onwetend in die proses ook ’n moontlike verdagte vir die vroeëre mesaanval op twee hengelaars in Port Elizabeth aangekeer.

Die 17-jarige seun is met ’n beursie, bankkaarte en twee identiteitsdokumente in sy besit betrap. Een van die identiteitsdokumente behoort aan ’n 22-jarige huisbraakslagoffer van Maandagaand wat in Humewood woon, terwyl die ander identiteitsdokument aan die 66-jarige Johann Fourie behoort wat Maandagoggend naby Noordhoek aangeval en beroof is terwyl hy gehengel het.

Netwerk24 het vroeër berig Fourie en sy vriend, Sidney Gerber (76), het albei verskeie meswonde opgedoen toe hulle twee aanvallers op die rotse probeer afweer het.

Die meswonde aan Sidney Gerber (links) en Johann Fourie se lywe nadat hulle Maandagoggend deur twee mans by Noordhoek in Port Elizabeth aangeval is terwyl hulle gehengel het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê intussen doen die polisie ’n beroep op die goeie samaritaan om die Mountweg-polisiekantoor te kontak aangesien hy weg is voordat die polisie ’n verklaring van hom kon bekom, wat belangrik vir hul ondersoek is.

Naidu sê die man het Dinsdagoggend ingespring en gehelp nadat ’n vrou se selfoon uit haar hand gegryp is terwyl sy voor haar werksplek in Kaapweg gestaan het. ’n Polisiebeampte wat onderweg na die Mountweg-polisiekantoor was, het die jaagtog gesien en hulle ook agternagesit tot by ’n skool waar die 17-jarige reeds deur die man aangekeer is.

Naidu sê terwyl die polisie die seun ondervra het, is die vrou se gesteelde selfoon, wat die seun glo laat val het, deur ’n gemeenskapslid na die toneel gebring.

Die tienerseun is in hegtenis geneem vir die selfoondiefstal, die huisbraak in Humewood, die rooftog van die twee hengelaars, asook vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Naidu sê ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, wat weens die aanval op die twee hengelaars ondersoek word, kan moontlik later teen die tienerseun bygevoeg word indien hy positief uitgeken word as een van die aanvallers.

Die seun het Woensdag en sal ook Donderdag op die onderskeie aanklagte teen hom in die Nerina-kinderhof in die stad verskyn.

Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Weldoener  |  Tienerseun  |  Aangekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.