Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wellington-reeksmoorde: Nóg ’n lyk langs R45 gekry

Die oorskot van die vermeende Wellington-reeksmoordenaar se derde slagoffer is Donderdagmiddag deur die polisie op ’n plaas aangrensend aan die R45 buite Wellington gevind.

Die man, Johan Williams (46), het volgens ’n betroubare bron vertroud met die ondersoek, Woensdag kort nadat Maria Isaacs (34), se lyk in ’n vlak graf in die bosse naby die R44 buite Wellington gevind is, glo aan die polisie gesê daar is “nog lyke”.

Die beendere wat gevind is, is vermoedelik dié van Natalie Jonkers (35) van die plaas Ongegund buite Wellington. Jonkers het sowat ses jaar gelede verdwyn.

Voertuigspore lei na die vlak graf waar Maria Isaacs se liggaam begrawe was. Foto: Jaco Marais

Sy het glo ook spoorloos verdwyn nadat sy saam met Williams weg is. Hy sou glo reël dat Jonkers met ’n geldskieter sou kennis maak wat haar kon help om haar skuld te delg. Sy is daarna nooit weer deur haar familie gesien nie.

Nie Natalie se man, Rubin Jonkers, of haar ma, Klara Davids, was Donderdag bewus daarvan dat die oorskat wat gevind is, moontlik dié van Natalie kan wees nie.

Jonkers het Donderdag gesê die polisie het ondanks die feit dat Williams glo probeer het om ná Natalie se verdwyning hul huis aan die brand te steek, niks gedoen om haar verdwyning en die brandstigting te ondersoek nie.

Natalie en Jonkers was skaars twee jaar getroud toe sy verdwyn het. Hy het gesê hulle soek net afsluiting en wil haar op ’n ordentlike manier begrawe. Hulle het drie kinders saam.

Die vlak graf waar Maria Isaacs se lyk begrawe was. Foto: Jaco Marais

Volgens Jonkers is Natalie die oggend van haar verdwyning na die dorp om Williams daar te ontmoet. Hy het gesê sy het hom nog die aand gebel om te sê hy moet die kos in die yskas uithaal en warm maak vir hom en die kinders. Sy is op pad plaas toe en sal sommer ’n toebroodjie kom eet. Hy het daarna nooit weer van haar gehoor nie.

Williams is Sondag op die einste Ongegund deur die polisie in hegtenis geneem by ’n vriend van hom, Charles Africa, se huis.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het Donderdag bevestig dat die beendere van ’n onbekende persoon op ’n plaas buite Wellington gevind is. Sy het gesê die identiteit van die persoon wie se oorskot gevind is, is nog onbekend.

Williams het Woensdag in die landdroshof in Wellington verskyn op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, twee aanklagte van verkragting en ’n aanklag van moord.

Die vlak graf van naby waar Maria Isaacs se lyk begrawe was. Foto: Jaco Marais

Die aanrandings- en verkragtingsaanklagte hou verband met die aanranding en verkragting van sy gewese meisie op 27 Junie vanjaar. Weens die verkragtingsaanklagte mag sy nie geïdentifiseer word nie.

Hy het haar glo as gyselaar in sy houthuis aangehou en haar herhaaldelik met ’n mes in haar rug gesteek. Hy het haar ook geslaan en daarna glo twee keer verkrag.

Die vrou het ’n interdik teen hom gehad en hulle sou op 6 Julie in die landdroshof in die Paarl verskyn het. Sy gewese meisie is ’n nabye familielid van die vrou wie se beendere Donderdag gevind is.

Die polisie op die toneel waar die derde vermeende slagoffer van die vermeende Wellington-reeksmoordenaar gevind is. Foto: Jaco Marais
Chantell Matthysen se lyk is Maandag naby die Bergrivier versteek onder takke gevind. Foto: Facebook

Die saak teen hom is tot Vrydag 13 Julie, uitgestel.

Die moordaanklag hou verband met Chantell Matthysen (24) se dood. Haar lyk is Maandag etlike meters vanwaar Natalie se liggaam na bewering begrawe was, versteek onder takke gevind.

Die gebied is sowat 6,8 km van Williams se houthuis in Saint Markstraat, Newton, Wellington.

Matthysen is met ’n skoenveter en vermoedelik die band van ’n handsak verwurg. Die presiese oorsaak van haar dood is egter nog nie bekend nie.

Die polisie het Sondag toe Williams in hegtenis geneem is, onder meer Matthysen se identiteitsdokument by hom gekry. Hulle het daarna ook haar pienk sak waarin haar klere was, by sy suster se huis gekry. Sy kinders se klere was glo daarin.

Die oorskot van vermoedelik Natalie Jonkers is Donderdag op ’n plaas aangrensend aan die R45 buite Wellington gevind. Sy het ses jaar gelede verdwyn. Foto: Verskaf

Isaacs se lykskouing sal na verneem word Vrydag gedoen word.

Polisiebronne het gesê nog aanklagte – dié van die moord op Isaacs, die moord op Jonkers en moontlike verkragtingsaanklagte – kan nog by die klagstaat gevoeg word.

Hy het sy slagoffers glo onder die voorwendsel dat hy werk vir hulle kan reël na Wellington gelok.

Hier het hy hulle na sy houthuis in Saint Markstraat, Newton, Wellington, geneem en daar in die donkerte van die houthuis na bewering herhaaldelik verkrag voordat hy hulle glo vermoor het.

Maria Isaacs (34) se lyk is Woensdag etlike meters vanwaar Chantell Matthysen se lyk gevind is, in ’n vlak graf gekry. Foto: Verskaf

Williams het glo op Facebook geadverteer dat hy werk vir mense op plase in die Wellington-omgewing kan kry. Isaacs, wat op ’n plaas in die Malmesbury-omgewing gebly het, is deur ’n familielid na Wellington geneem. Hier het Williams haar by die ontmoetingsplek in Wellington se middedorp te voet kom haal. Haar familie het daarna nie weer van haar gehoor nie.

Matthysen het op Saterdag 23 Junie ’n trein na Wellington gehaal vir ’n werkgeleentheid wat Williams vir haar sou reël. Haar ma, Carol Petersen (46), het Matthyssen as vermis aangemeld kort nadat sy in Wellington aangekom het en sy nie meer telefonies met haar ma kontak behou het nie.

Haar ma het Dinsdag gesê Williams sou vir Matthysen werk reël as ’n pakker op ’n plaas in die omgewing.

Williams is deur haar ouers as ’n huisvriend beskou.

Rubin Jonkers, Natalie Jonkers se man en haar ma, Klara Davids, het Donderdag gesê hulle soek net afsluiting. Hulle wil weet wat met Natalie gebeur het en wil haar begrawe as sy dood is. Foto: Jaco Marais

Hy het glo, nadat hy Woensdag aan die polisie gesê het daar is nog lyke, daarop aangedring dat sy bekentenis deur ’n landdros of ’n senior offisier afgeneem word.

Die bron het Donderdag gesê die polisie gaan nou glo hulle soektog na nog lyke na die plaas Bakenhof verskuif. Williams se pa het glo voorheen vir jare daar gewoon.

Polisiebeamptes van Wellington het Donderdag kort ná 11:30 by die R45 waar dit by die Lady Loch-pad na Wellington aansluit langs die pad gestaan. Een van die voertuie was ’n polisievoertuig gemerk met die woorde: Body Fluid. Die voertuig is ook Woensdag in die omgewing waar die eerste twee lyke gevind is, gesien.

Die polisie het kort nadat die media op die toneel gekom het, die verkeerspolisie laat kom om die pad tussen Bakenhof en die Lady Loch-aansluiting vir verkeer af te sper. Motoriste moes ’n ompad na Malmesbury- en Wellington neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.