Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wêreldwye platform vir plaasmoorde

Lidlande van die Verenigde Nasies (VN) in New York kan verwag om binnekort heelwat meer oor onteiening en plaasmoorde in Suid-Afrika te hoor.

Dít kom nadat AfriForum raadgewende status gekry het in die VN se ekonomiese en maatskaplike raad (Ecosoc). Suid-Afrikaanse diplomate het dit nege jaar lank probeer keer.

“Ons is nou geregistreer as ’n nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status by Ecosoc. Dit gee ons geleenthede en voorregte om ons werk in die groter raadsale van die VN voort te sit,” sê Ernst Roets, AfriForum se adjunkhoof.

AfriForum het reeds in 2011 aansoek gedoen om toelating by Ecosoc, een van die VN se ses hoofstrukture. Die aansoek het elke jaar voor ’n komitee gedien wat dit moes oorweeg, maar elke jaar het die komitee gesê: Kom weer volgende jaar terug.

“Met die eerste aansoek in 2011 was ek self daar. Ek het met ’n Suid-Afrikaanse diplomaat gesels wat vriendelik en hulpvaardig was. Maar uiteindelik het hy vir my gesê ons regering wil nie hê dat AfriForum erken moet word nie,” sê Roets.

Die regering het aansoek glo vir jare probeer dwarsboom.

Hy is gevra om self voor die komitee te verskyn om komiteelede se vrae te beantwoord.

“Jy kry hoogstens tien minute om die vrae te beantwoord. Ek het begin antwoord, maar toe die tien minute verby is, het die komitee gesê ek moet die vrae skriftelik antwoord, dan sal die aansoek volgende jaar weer oorweeg word,” sê hy.

Die volgende jaar is dié uitstelproses herhaal. En die jaar daarna. En weer die jaar daarna – tot verlede jaar. Roets het meestal self verskyn.

’n Suid-Afrikaanse diplomaat met wie Roets ’n goeie verhouding gehad het, het aan hom gesê die opdrag dat AfriForum se aansoek ondergrawe moet word, het gekom van Pitso Montwedi, hoofdirekteur van menseregte en humanitêre aangeleenthede in die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.

“Die regering is glo ongelukkig oor ons veldtogte teen plaasmoorde en omdat ons beswaar gemaak het omdat oudpres. Robert Mugabe genooi is om oudpres. Jacob Zuma se inhuldiging in 2009 by te woon,” sê Roets.

Die diplomaat het reguit gesê Suid-Afrika se bondgenote in die VN sal gebruik word om AfriForum se aansoek te laat misluk. “Die vennote wat daarmee sou help, was China, Zimbabwe, Kuba en Soedan.”

So was dit toe ook: Elke jaar het verteenwoordigers van dié lande vrae oor AfriForum se aansoek geopper.

Maar verlede week het Ecosoc vir AfriForum amptelik laat weet die aansoek is dié keer goedgekeur.

Verskeie navrae by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking om te probeer vasstel waarom die regering die aansoek probeer dwarsboom het, het niks opgelewer nie. Rapport het egter wel vasgestel dat Montwedi se diens by die departement einde verlede jaar beëindig is.

“Ek is nie seker of hy afgetree het en of hy bedank het nie, maar hy werk beslis nie meer vir ons nie,” het ’n amptenaar wat nie geïdentifiseer wil word nie, gesê.

Rapport het ook ’n lys amptelike vrae daaroor aan die departement se mediawoordvoerder, Lunga Ngqengelele, gestuur, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie.

AfriForum kan nou voorleggings en ander insette lewer in sittings van Ecosoc, wat hoofsaaklik ’n koördineringsrol speel tussen die verskillende strukture van die VN, veral oor omgewingskwessies en volhoubare ekonomiese ontwikkeling.

“Ons kan op hierdie forums kundige advies kry en gee oor die vraagstukke waarmee AfriForum te doen het. Ons kan ook verteenwoordigers aanwys by die VN se kantore in New York, Genève en Wene om ons op vergaderings te verteenwoordig.

“Ons kan ook insit by vergaderings van liggame soos die VN se raad vir menseregte en in sekere gevalle in die algemene vergadering,” sê Roets.

Oor AfriForum se prioriteite by die VN het Roets gister gesê: “Die belangrikste kwessies waaroor ons nou bewusmaking wil doen en steun werf, is onteiening en plaasmoorde. Die grootste prioriteit is egter om AfriForum en dit waarvoor ons staan te internasionaliseer. Daar is ’n groeiende internasionale hoofstroom-konserwatiewe beweging, waar ons waarde kan toevoeg.”

Rapport het in Maart berig dat AfriForum gevra is om die Conservative Political Action Conference (CPAC), Amerika se bekende konserwatiewe konferensie, in 2021 in Suid-Afrika aan te bied. CPAC word in die VSA deur die Amerikaanse Konserwatiewe Unie (ACU) aangebied. Pres. Donald Trump was ’n spreker by vanjaar se konferensie.

Roets het Saterdag gesê die ACU se direksie het in September die besluit goedgekeur dat AfriForum die gasheer vir CPAC in Suid-Afrika mag wees. “Hulle stel nou die ooreenkoms op wat ons moet teken en dan kan ons begin reël. Hulle het Donderdag bevestig dat ons die dokument eersdaags kan verwag.”

Meer oor:  Ernst Roets  |  Verenigde Nasies  |  Plaasaanvalle  |  Afriforum  |  Vn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.