Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Werker vermoor wat plaashuis naby Potch oppas

’n Werker is die Paasnaweek vermoor terwyl hy ’n plaashuis naby Potchefstroom opgepas het.

Die polisie kon Maandagmiddag nie sy naam bekend maak nie omdat hy nog geïdentifiseer en sy naasbestaandes in kennis gestel moet word.

George Gibbens, eienaar van die plaas, het gesê die man wat die plaas by hom huur, was die naweek weg en Maandagmiddag nog van die Noord-Kaap af op pad terug na Potchefstroom, nadat hy van die moord gehoor het.

“Die huurder sal eers wanneer hy terug is op die plaas meer besonderhede kan gee oor die werker en die goedere wat moontlik gesteel is.”

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die werker se lyk is Maandagmiddag vroeg gevind toe die huurder se ma die honde gaan kosgee het. “Sy het gesien iets is fout omdat die veiligheidshek by die voordeur en die voordeur self oopgebreek is. Die werker se lyk was in die hoofslaapkamer.”

Die werker se hande en voete is vasgebind. Hy het kopwonde gehad, maar dis nog nie seker of hy geskiet of geslaan is nie. Hy was vermoedelik in sy vroeë 20’s, sê Myburgh. “Die rower(s) het die kluis sonder sukses probeer oopbreek. Dis nie seker of enigiets gesteel is nie.”

Volgens Rudi du Toit, voorsitter van Potchefstroom Landelike Veiligheid, het die huurder se ma nog met die werker gepraat toe sy Saterdagmiddag die honde gaan kosgee het. “Sover ons kennis strek, is sy die laaste persoon wat hom lewend gesien het.” Du Toit was ook op die toneel nadat die lyk gekry is.

Volgens Gibbens was daar die afgelope tyd ’n vlaag van inbrake op verskillende plase in die omgewing. “Ons plaas en die ander plase is maar sowat 4 km van die polisie se berede sentrum; dit wys net hoe min respek die diewe vir die polisie het.”

Die polisie ondersoek ’n saak van moord. Teen Maandagmiddag is niemand in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  George Gibbens  |  Potchefstroom  |  Werker  |  Moord  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.