Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Werkers kap boer se kudde

’n Boer van Donnybrook in KwaZulu-Natal se weiveld het dié week soos ’n slagveld gelyk nadat sy voormalige plaaswerkers ’n kudde beeste op die plaas aangeval het.

Charles Anderson en sy twee seuns, William en Phillip, by die afgebrande werkershuis op hul plaas naby Donnybrook, KwaZulu-Natal. Foto: Deon Raath

Twee is op die plek doodgekap en nog tien moes van kant gemaak word.

Dit was die jongste voorval in ’n klein oorlog wat Charles Anderson se voormalige werkers sedert November teen hom voer omdat hulle ontevrede is oor ses Zimbabwiërs wat in bestuursposte vir hom werk. Hulle het ook Maandagnag een van die Zimbabwiërs se huis op die plaas afgebrand.

Anderson en sy werkers is al herhaaldelik gedreig – selfs in die teenwoordigheid van die polisie – en teen Woensdag was sy werkers te bang om te kom melk. Lede van die gemeenskap het toe gehelp om sy 1 500 koeie te melk.

Luan Anderson (regs) by haar seuns, William en Phillip. Foto: Deon Raath

Anderson het ’n hofbevel gekry teen ses van die moeilikheidmakers, maar toe hy dit Donderdag wou laat beteken, het die balju gesê die polisie het nie genoeg lede beskikbaar om hom by te staan nie.

“Hoe beskerm jy jou mense, jou koeie, jou saagmeule, jou plantasies?” sê Anderson se vrou, Luan, met trane in haar oë.

“Wat vir my moeilik is, is ons het baie in die gemeenskap ingestoot. Ons het ’n klaskamer gebou, ’n kleuterskool, ons het grond geskenk vir ’n sokkerveld . . .” Die plaas gee werk aan 300 plaaslike mense.

‘Ons het baie in die gemeenskap ingestoot.’

Charles was in trane toe hy Dinsdagoggend van die veld af terugkom.

“Om te sien hoe ’n dier probeer loop en neerval, en weer probeer opkom en neerval omdat sy hakskene afgesny is . . .” probeer hy verduidelik.

Die probleme op die plaas Emerald Dale kom al lank aan.

Dertien van Charles Anderson se beeste is vermink.

Verlede jaar het van die werkers geëis dat Charles ontslae raak van ’n Zimbabwiese werker wat in beheer is van ’n meule. Hy het uiteindelik gevlug nadat hy met die dood gedreig is.

Vier omgekrapte voormalige werkers het die Andersons voor die polisie gedreig: “Óf die Zimbabwiërs gaan óf die Andersons gaan.”

In Desember het die voormalige plaaswerkers probeer om ’n Zimbabwiese plaaswerker se houthuis aan die brand te steek.

Charles se seun Phillip sê die onmin het baie te doen met mense in bestuursposte, wat deur ander gesien word as “polisiemanne” omdat hulle orde moet handhaaf.

“Ek dink die feit dat hulle Zimbabwiërs is, vererger die situasie.”

Charles Anderson is gebroke oor die onmin en verwoesting op sy plaas. `Foto: Deon Raath

Luan sê hulle het die polisie se hulp al voorheen en weer dié week ingeroep en die polisie is nie onwillig om te help nie, maar hulle is te bang om op te tree.

“Die polisie is te bang om te skiet as iemand hulle met ’n mes aanval, want dan kom hulle in die moeilikheid. Hulle is so magteloos. Die hofbevel gee hulle darem ’n bietjie mag,” sê sy.

Maar nou is die skade gedaan.

“As hulle die eerste dag die mense in hegtenis geneem het, het ons nie nou met die situasie gesit nie,” sê Charles.

Dié situasie is nie ’n geïsoleerde een nie.

Kapt. Nqobile Gwala, ’n polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê nadat die balju hul hulp gevra het, het hulle die eenheid vir openbare orde (Pops) van Port Shepstone gekry en Vrydag is die hofbevel beteken.

Boeta du Toit, die uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê sy provinsie loop die gevaar om heeltemal in duie te stort wat reg en orde betref.

“Dit maak nie saak of ’n klag onrus-verwant is en of dit ’n plaasbesetting of -aanval is nie. Die sake word nie behoorlik ondersoek nie. En as die polisie by ’n toneel opdaag – daar is geen waarborg hulle gaan opdaag nie – is hulle óf te laat óf hulle sleep hul voete.”

“Dié soort ding gebeur gereeld hier in Noordwes en dan moet Pops ingebring word om op te tree – terwyl sulke optrede heeltemal en gemaklik binne die mandaat van ons plaaslike polisie val.”

Pieter Vorster, voorsitter van Agri Letaba, sê in sy streek is swak polisiëring meer die uitsondering as die reël.

“Daar is in enkele gevalle frustrasie met reaksietyd, maar dis selde die geval met ernstige misdade soos kapings of plaasaanvalle,” sê Vorster.

“Daar is ’n noue band tussen buurt- en plaaswagte, landbou-organisasies en die polisie. WhatsApp-groepe maak hierdie samewerking ook baie makliker. Wanneer iemand op een van dié groepe ’n noodkreet plaas, is daar dadelik verskeie polisiemanne en boere wat reageer.”

Ian Cameron, AfriForum se hoof van veiligheid, sê as wetstoepassing nie reg bestuur word nie, kan eiendomsreg totaal verval.

“As die polisie nie daarin slaag om ons landelike gemeenskappe te beskerm wanneer dit by protes, misdaad en eiendomsreg kom nie, loop ons die gevaar om die Zimbabwe-scenario aan ons eie lyf te voel.”

Intussen vra Charles hoe dit moontlik is dat enkele rampokkers sy onderneming tot stilstand kan dwing.

“Hierdie plaas is generasies lank in ons familie. My voorgeslagte het van die boot na hierdie kuslyn geswem.

“Ek is al ’n ou man, maar wat van my twee seuns? My seun sê hy weet nie of hy sy kinders op die plaas sal kan grootmaak nie,” sê hy.

Die ironie is dat hulle werk gee vir mense, maar nou oorweeg hulle om werkers te verminder.

Meer oor:  Boerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.