Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Werkers kla – toe storm baas se man met wapen in

’n Vergadering waar werkers van die Raad op Eiendomsagente (EAAB) griewe oor hul omstrede hoof wou bespreek, het ontspoor toe haar man met ’n vuurwapen daar ingestorm het.

Mamodupi Mohlala-Mulaudzi

Verteenwoordigers van die vakbond Nehawu en werkers van die EAAB wou Donderdag by die reguleerder se kantore in Sandton vergader met Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, die omstrede uitvoerende hoof.

Sy is ook ’n vooraanstaande prokureur en adjunkvoorsitter van die SAUK-raad.

Volgens WhatsApp-boodskappe van EAAB-personeel wat Rapport gesien het, het die uitvoerende hoof se man, die sakeman Lawrence Mulaudzi, by die vertrek ingestorm sonder dat hy as besoeker by die gebou ingeteken het.

“Dis wat ons uitvoerende hoof nou doen. Sy gebruik haar man om ons te dreig dat ons nie met die vakbond kan bespreek hoe ons oor haar voel nie,” lui een WhatsApp-boodskap.

Rapport het ook ’n video gesien wat geneem is kort nadat Mulaudzi die vertrek verlaat het en waarop almal in die raadsaal duidelik getraumatiseer is.

Mohlala-Mulaudzi word daarvan beskuldig dat sy ’n skrikbewind voer in haar amp. ’n Anonieme fluitjieblaser het op 16 September ’n verslag aan die voorsitter van die EAAB-raad, Nkosinathi Biko, met verskeie bewerings gestuur.

Dis ook gestuur aan Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings. Sy het Biko gevra vir antwoorde op die beweringe en vir ’n verduideliking oor die proses waarvolgens Mohlala-Mulaudzi in die eerste plek aangestel is.

Die anonieme fluitjieblaser beweer onder meer dat Mohlala-Muluadzi verskeie senior personeel aangestel het sonder om die nodige werwingsprosesse te volg en die publiek mislei het toe sy in Junie vanjaar aangekondig het dat Vodacom 1 000 tabletrekenaars se data vir 12 maande vir die EAAB se jeugprogram sou borg. Die EAAB het eintlik R1,5 miljoen daarvoor betaal. Mohlala-Mulaudzi het ook glo op ’n oorsese reis in September gegaan wat sowat R320 000 gekos het, al was daar ’n moratorium op dié reise.

Sy word ook van viktimisasie beskuldig. ’n Video het die afgelope week die ronde gedoen waarin Mohlala-Muluadzi ’n werknemer uitdaag om sy klagtes te lug. Die werknemer sê:

“Jy boelie ons. Ek is emosioneel gedreineer.”

Mohlala-Muluadzi por hom heeltyd aan met snedige kommentaar tydens die video.

Die man sê dan: “Jy kan maar doen wat jy wil. Ek is ’n man wat bid, en wat glo, en jou dag sal kom.” Hy staan dan op en loop uit die kantoor uit.

Die anonieme fluitjieblaser se klagte aan Biko op 16 September is aanvanklik geïgnoreer, maar nadat minister Sisulu ingegryp het, het die EAAB-raad dit ondersoek.

Hierdie ondersoek is glo verlede week afgehandel, en volgens ’n uitgelekte verslag van die EAAB se etiekkomitee is hulle tevrede met al Mohlala-Muluadzi se antwoorde op die bewerings. Sisulu het ’n “aksieplan” van die direksie gevra en dit ontvang en sê sy besin daaroor.

“Die voorval (met die vuurwapen) is nog nie onder ons aandag gebring nie. Stappe sal gedoen word teen enigiemand wat die veiligheid van werknemers in gedrang bring.”

Mohlala-Mulaudzi se betrokkenheid by die SAUK veroorsaak nóg omstredenheid. Dit is omdat staatsamptenare ingevolge regeringsbeleid nie bykomende vergoeding mag verdien om in direksies van staatsbeheerde ondernemings te dien nie. Luidens ’n brief van die SAUK waarvan Rapport ’n afskrif het, het sy tot in Augustus vergoeding daarvoor van die SAUK ontvang.

Nóg Mohlala-Mulaudzi nóg Biko wou op veelvuldige navrae van Rapport reageer.

Mohlala-Mulaudzi het egter aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê daar is niks onbehoorlik aan haar dubbele salaris nie.

Meer oor:  Lawrence Mulaudzi  |  Fluitjieblaser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.