Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Werkers speel glo rol in Regal-plaasmoord

Werkers word moontlik betrek by die ondersoek na die moord op Mark Regal (50) wat Woensdagaand in ’n plaasaanval buite Odendaalsrus in die Vrystaat doodgeskiet is.

Volgens iemand na aan die ondersoek was meer as een werknemer van Joe, Mark se pa, by die aanval betrokke.

Mark en sy vrou, Angela, het na die plaas omgesien terwyl Joe uitstedig was.

Die Regals is ’n bekende Goudveldse familie wat ’n boerdery, taksidermie en nog sakeondernemings besit. Mark was ’n sakeman wat in Welkom gewoon het.

Die ingeligte sê dit lyk asof Joe se werknemers inligting aan ’n misdaadbende gegee het om die aanval moontlik te maak.

’n Plaaslike boer, Jan Bezuidenhout jr., sê hy en nog gemeenskapslede en polisielede is sedert die moord op Mark onverpoosd op soek na die aanvallers.

Mark Regal saam met sy gesin. Agter is sy seun, Blake (18), en sy vrou, Angela. Sy dogter, Kiara (17), sit voor by hom.

Twee mans het Woensdagaand vir Angela aangeval terwyl sy op die plaashuis se stoep gesit het. Angela kon een van die aanvallers doodskiet, maar die tweede aanvaller het toe vir Mark doodgeskiet.

Die aanvaller wat deur Angela doodgeskiet is, is ’n Nigeriese burger, Obi Okaye (55).

Bezuidenhout sê die aanvaller wat glo vir Mark doodgeskiet het, is self raakgeskiet en het taamlik baie gebloei.

Hy en nog mans het ure lank deur die nag die gewonde man en sy twee makkers se spore gevolg.

Daar was altesaam vier aanvallers, sê Bezuidenhout.

“Hulle het ’n groot draai deur die veld geloop en toe terugbeweeg na die grootpad waar hulle buite Odendaalsrus deur ’n voertuig opgelaai is,” sê hy.

Hills-moord

Mark se moord volg net vyf dae nadat Pieter Hills (56) en sy seun, Eddie, Donderdagaand op hulle plaas buite Hennenman geskiet is.

Pieter is op die toneel dood en Eddie is Woensdag in die hospitaal oorlede.

Soos vroeër berig is ’n familielid van een van die plaaswerkers, Patrick Bochedi, in verband met die Hills se moorde in hegtenis geneem. Bochedi het op die Hills-plaas, Zwartpan, grootgeword.

Deacon-moorde

In Augustus vanjaar is Hettie en Lizette Deacon in Polokwane vermoor. Soos vroeër berig is die vroue se huiswerker van die afgelope 24 jaar, Sophie Mmako (51), in hegtenis geneem en word deur die polisie as die meesterbrein agter die moorde beskou.

Lukas Swart, ’n misdaadkenner, sê al hoe meer mense is vatbaar daarvoor om by misdaad ingetrek te word weens die hoë werkloosheidsyfer.

“Daar is gevalle waar werkers inligting oor wat in jou huis, boerdery of sakeonderneming aan die gang is aan bendes wat roof en moor verskaf.“

Werkgewers sal bendelede moet begin identifiseer om die groeiende misdaadbedreiging af te weer, want al meer mense sluit by bendes aan omdat hulle nie werk het nie,” sê hy.

Meer oor:  Mark Regal  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.