Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Werkers van nooddienste weer deur aanvallers geteiken

Nooddienswerkers van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement wat die naweek aangeval en beroof is, is so getraumatiseer dat hulle met siekteverlof moes gaan.

Volgens die departement was daar tot dusver vanjaar 43 aanvalle op nooddienswerkers in die provinsie.

In die eerste voorval die naweek is twee vrouewerkers van die forensiese patologiediens Saterdag omstreeks 20:30 op die N2 naby Nyanga aangeval terwyl hulle op pad terug na hul laboratorium was. Hulle het afgekom op ’n motorongeluk en het stilgehou om te help.

Hulle het die metro se beheerkamer in kennis gestel en een het uitgeklim om te gaan help terwyl die ander vrou in die voertuig gewag het. ’n Man het die vrou in die voertuig genader, haar met ’n vuurwapen gedreig en haar iPhone en die GPS gesteel.

Werkersnemers van die Wes-Kaapse patologiediens is ook die naweek geteiken.

In die tweede voorval het manlike nooddienswerkers Sondag omstreeks 03:36 in Mdubi-rylaan in Joe Slovo, Milnerton, gery toe vyf mans en ’n vrou hulle aangeval het.

Die vrou, wat ’n tas gedra het, het voorgegee dat sy haar been beseer het.

Een van die nooddienswerkers wat in pasiëntsorg spesialiseer, was op die punt om uit die ambulans te klim om haar te help toe vyf mans die ambulans omsingel en ’n geweer deur die venster aan die bestuurderskant steek.

Die verdagte het die geweer teen die nooddienswerker se kop gedruk en geëis dat hy die deur oopmaak. ’n Ander man het probeer om die passasiersdeur oop te maak.

Een van die ambulanse van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.

Die nooddienswerker wat bestuur, het die verdagte se hand weggestamp en weggejaag. Hulle het dadelik na die polisie in Milnerton gery en ’n saak aanhangig gemaak.

“Dit is uiters kommerwekkend dat nooddienswerkers aangeval word terwyl hulle hulp op ’n ongelukstoneel wou verleen. Ek doen ’n ernstige beroep op die publiek om nie ons forensiese amptenare aan te val terwyl hulle hul pligte in ons gemeenskappe nakom nie,” het Vonita Thompson, hoof van die forensiese patologiediens, gesê.

Dr. Shaheem de Vries, hoof van die nooddiens, sê hoewel daar in die meeste gevalle geen ernstige beserings was nie, is die aanvalle traumaties vir die werknemers en vrees hulle vir hul lewens terwyl hulle hul werk doen.

“Ons sal aanhou om saam te werk met gemeenskappe in die Wes-Kaap sodat hulle verstaan dat hulle weens hierdie aanvalle aan die kortste ent trek, veral nou in die lig van die koronavirus. Gemeenskappe moet saamwerk om hierdie misdadigheid uit te wis,” het hy gesê.

Meer oor:  Kaapstad  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Geweld  |  Nooddienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.