Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
W-Kaap eis dat polisie ingryp by aanvalle op vragmotors

Die Wes-Kaapse regering het ’n beroep op die polisie gedoen om inligting beter in te samel en saam te werk om die aanvalle op vragmotors in die provinsie te ondersoek.

Dit volg ná vier aanvalle op vragmotors tussen Maandagaand en vroeg Dinsdagoggend in die Strand, Kaapstad en op die N7.

Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, het om 13:15 ook bevestig dat nog ’n bus aan die brand is op die N2 in Knysna, voor die afrit na Hornlee.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het Dinsdag ’n beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om misdaadintelligensie, die Valke en polisie te betrek en met die plaaslike metropolisie en wetstoepassers te laat saamwerk sodat inligting oor dié aanvalle versamel en gedeel word.

’n Vragmotor is vroeg Dinsdagoggend op die N7 by die Piekenierskloofpas in die Wes-Kaap uitgebrand nadat dit met ’n petrolbom bestook is.Foto: Twitter (@Bosbeer206)

“Dit is noodsaaklik om seker te maak dat meer mense in hegtenis geneem en skuldig bevind word en verdere misdaad verhoed word,” sê Fritz in ’n verklaring.

“Aanvalle op vragmotors en bestuurders is uiteindelik ’n aanval op ons ekonomie in die Wes-Kaap, omdat dit die kleinhandel, boubedryf en landbou raak, om net ’n paar te noem.”

Fritz sê sy departement sal noukeurig kyk na die voorkoms van aanvalle op vragmotors in die jongste misdaadsyfers wat Cele vandeesweek gaan uitreik.

Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en openbare werke, het in ’n verklaring gesê dié aanvalle sal nie geduld word nie en die provinsiale verkeersdienste sal hul operasies op die N7 en ander brandpunte saam met die polisie en munisipale verkeersdienste verskerp.

Dit sluit in meer verskerpte patrollering en sigbaarheid van wetstoepassers op die N7 en ander gebiede wat geraak word.

“Die onlangse aanvalle is misdadig en ontwrig die ekonomiese ontwikkeling van die provinsie,” sê Madikizela.

In die eerste voorval Maandag is ’n vragmotor om 21:50 op die N2 by Lwandle, Strand, met klippe bestook en aan die brand gesteek.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Peter Abrahams/SON

Kort ná middernag is ’n vragmotor op die N7 naby Moorreesburg met ’n petrolbom bestook, nadat twee voertuie dit glo van die pad af gedwing het. Die vragmotor is heeltemal uitgebrand.

Om 01:00 is ’n vragmotor op die N7 naby Porterville met ’n petrolbom bestook terwyl die bestuurder afgetrek en in die voertuig geslaap het. Die bestuurder is ernstig beseer en na die hospitaal in Piketberg geneem.

Leensie Lötter, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Weskus, het die middag bevestig dat ’n 45-jarige man met erge brandwonde in die Radie Kotze-hospitaal opgeneem en na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is.

In die laaste voorval op die N7 naby die Piekenierskloofpas is ’n vragmotor met ’n vrag hoenders om 02:00 aan die brand gesteek en is petrol na die bestuurder gegooi. Hy is egter ongedeerd.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die middag bevestig dat ’n 43-jarige bestuurder en sy passasier van Klawer na Kaapstad gery het, toe twee wit Mercedes-Benz-motors hul vragmotor op die N7 buite Moorreesburg van die pad af probeer dwing het.

“Die groep mense het toe ’n voorwerp na die vragmotor gegooi en dit het aan die brand geraak.”

Niemand is in die voorval beseer nie en ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

’n Onbekende aantal mense het om 01:00 ook ’n vragmotor op die N7 by die afrit na Porterville aan die brand gesteek en die bestuurder wat daarin geslaap het, ernstig beseer.

“Die motiewe vir die aanval is nog nie bekend nie,” sê Van Wyk.

Om 02:00 is ’n vragmotor naby die begin van die Piekenierskloofpas naby Eendekuil ook deur twee motors van die bad gedwing.

Volgens Van Wyk is die bestuurder (51) met ’n vuurwapen gedreig terwyl die vragmotor met petrol aan die brand gesteek is.

Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en openbare werke.Foto: Malherbe Nienaber

Niemand is in hegtenis geneem nie en sake van poging tot moord, openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

Verlede Woensdag was die Dutoitskloofpas in die rigting van Worcester ook gesluit nadat ’n vragmotor aan die brand gesteek is.

Africa het toe bevestig dat drie gewapende mans die bestuurder uit die voertuig gedwing en dit met ’n petrolbom aan die brand gesteek het.

“Die bestuurder het glo gery oor klippe wat in die pad gepak was, waarna hy die vragmotor gestop het. Drie aanvallers het te voorskyn gekom, ’n vuurwapen op die bestuurder gerig en hom beveel om uit te klim,” sê Africa.

Niemand is beseer nie en die mans het in ’n pers Opel Corsa sonder nommerplate in die rigting van Kaapstad gevlug.

Voorverlede Sondagaand is ’n vragmotor op die R301 buite die Paarl aan die brand gesteek nadat klippe in die pad gepak is en die bestuurder uit die voertuig gevlug het.

’n Vragmotor is voorverlede Sondagaand ook buite die Paarl aan die brand gesteek. Foto: Drakenstein Farm Watch

Verlede Maandag is verskeie paaie in en om Kaapstad deur vragmotors versper en sommige vragmotors aangeval.

’n Vragmotor is op die hoek van die R300 en die Stellenbosch-afdraai (M12) in Delft gekaap en die vrag geplunder, terwyl daar ook ’n poging was om vragmotors op die N2 by Baden Powell-rylaan aan die brand te steek.

By die Dutoitskloofpas, net voor die ingang tussen die tolhek en die Hugenote-tonnel, is ’n vragmotor die oggend ook aan die brand gesteek.

In Junie is Bernard Groenewald (49), mede-eienaar van ’n vervoermaatskappy in die Paarl, in die hospitaal dood nadat sy vragmotor op die N1 naby Touwsrivier met petrolbomme bestook is en hy ernstige beserings opgedoen het.

Hy en sy vrou se swaer het die oggend van 2 Junie langs die pad in hul vragmotors geslaap toe hulle aangeval is. Die swaer kon betyds vlug.

Op dieselfde dag is minstens 16 ander vragmotors oor die land heen aan die brand gesteek en aangeval.

Die Padvragvereniging (RFA) het in Junie geraam dat 213 mense sedert Maart 2018 in aanvalle op plaaslike en buitelandse vragmotorbestuurders dood is en byna 1 400 vragmotors beskadig of verbrand is.

Die skade aan die ekonomie beloop tussen R1,2 miljard en R1,3 miljard.

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Jaco Marais

Cele reageer op vragmotor-aanvalle

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdagmiddag op ’n nuuskonferensie deur ministers in die veiligheidsgroep gesê dat vier hoofweë landwyd tans brandpunte vir aanvalle op vragmotors is, berig Llewellyn Prince.

“Dit is die N3-, N2- (in KwaZulu-Natal), die N7- (in die Wes-Kaap) en die N11-snelweg (deur Limpopo en Mpumalanga) en miskien ’n deel van die N4-snelweg (in Mpumalanga) waar ons hierdie probleme het.”

Cele sê ’n ministeriële komitee onder leiding van Thulas Nxesi, minister van arbeid en werkskepping, is geskep om die probleme in die vragmotorbedryf te help oplos.

“Die N7 (in die Wes-Kaap) is waar die jongste voorvalle plaasgevind het.”

Volgens Cele word die aanvalle op vragmotors nou as nasionale probleem deur die interministeriële komitee gehanteer.

“Ons werk ook baie nou saam met die premier van veral KwaZulu-Natal en (relevante) LUR’e in Mpumalanga en die Wes-Kaap vir vroeë waarskuwingstekens en vinniger reaksies op die aanvalle. Komitees is ook op provinsiale vlak geskep om saam met die nasionale komitee te werk,” het Cele gesê.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Polisie-Ingryping  |  Misdaad  |  Aanvalle  |  Vragmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.