Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Wie daal so laag dat jy ’n kruis steel?’

Twee vroue in verskillende uithoeke van die land is op soek na die groot kruise wat hulle langs die pad vir hul afgestorwe geliefdes in sement geplant het.

Die kruis vir Chris Trollip wat weg is.

Albei dié kruise het verdwyn.

Annamarie Trollip se ysterkruis vir haar seun, Chris (19), is nie meer langs die pad verby Oukasie naby Brits nie. Yolande Boshoff se swarthoutkruis vir haar man, Werner (45), het naby die Glentana-brug buite George verdwyn.

Annamarie sê Chris is amper sewe jaar gelede dood toe hy op sy motorfiets op pad na sy meisie se Valentynsokkie by die Hoërskool Wagpos naby Brits verongeluk het.

Chris, wat in 2012 matriek aan Wagpos geskryf het, was dié skool se eerste leerling wat ’n prestasiebalkie vir armdruk ontvang het. Hy kom uit ’n familie van armdruk-kampioene.

‘Mag jou gewete jou so ry . . .’

Medelidmate van haar kerk het ’n mooi houtkruis langs die pad by die ongelukstoneel geplant om haar seun se dood te gedenk.

“Die kruis het amper ’n jaar daar gestaan, maar die termiete het dit opgevreet. My man het toe vir Chris die ysterkruis gebou,” sê sy.

Die ysterkruis het ses jaar daar gestaan, diep in sement staangemaak.

“Ek het geglo dat dit help om ouers wie se kinders daardie pad ry, bewus te maak van die gevare,” sê sy.

Maar Maandag het past. Ian Bezuidenhout, wat Chris se jeugleier was, vir haar gesê hy sien die kruis is weg.

Die kruis vir Werner Boshoff is ook weg.

Toe sy self Donderdag gaan kyk het, het sy gesien dit is teen die grond afgesny.

Annamarie het elke jaar op 3 Februarie, die herdenking van Chris se geboortedag, ’n bondel ballonne aan die kruis gaan vasmaak. Hy sou Maandag 26 ballonne gekry het.

En op die dag van sy dood het sy elke jaar rooi ballonne gaan vasmaak, “want rooi is die bloed van Jesus”. Sy sou op 21 Februarie dus sewe rooies soontoe geneem het.

In George het Yolande die afgelope week op Facebook gesê dis hartverskeurend om te dink mense kan só laag daal dat hulle haar man se kruis kan steel.

“Aan die persoon wat die kruis gesteel het . . . mag jou gewete jou so ry dat jy hom sal terugbesorg aan my,” skryf sy. 

Sy sê Werner is op 2 November 2019 dood toe hy ’n boot met sy motor gesleep het. ’n Band het gebars, hy het beheer oor die motor verloor en dit het gerol.

Hulle het ’n swaar swarthoutkruis, wat in hul familie se fabriek gemaak is, sowat 2 m van die pad in sement geplant. Die kruis was  omtrent 1,7 m hoog.

Hulle het Saterdag die kruis geplant en mense wat haar ken, het haar nogal laat weet dit lyk mooi. Twee dae later het ’n kontrakteur van Sanral haar laat weet hy sien nie die kruis nie.

“Toe hy die eerste keer verbyry, het die kruis op die gras gelê. Toe hy weer verbyry, was die kruis weg. Hy het my verseker dis nie sy mense wat die kruis verwyder het nie,” sê sy.

Yolande het op Facebook gesê dit gaan nie vir haar net oor die kruis nie, maar omdat sy destyds nie haar man kon groet nie, en nou het die kruis ook verdwyn.

Meer oor:  George  |  Brits  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.