Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wie is die gevangenes wat vrygelaat gaan word?

Honderde, indien nie duisende verhoorafwagtendes wat van minder ernstige misdrywe, soos onder meer winkeldiefstal, diefstal, die besit van dwelms, dronkbestuur en bedrog aangekla is, gaan binne die volgende paar dae en weke uit die land se tronke vrygelaat word.

Ingevolge nuwe regulasies wat Dinsdag in die Staatskoerant gepubliseer is, word hierdie vermeende misdadigers landwyd op waarskuwing uit die tronke vrygelaat totdat hulle weer in die hof moet verskyn.

Die regulasies spruit uit die nasionale ramp wat die regering verklaar het om die Covid-19-virussiekte te bekamp.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die volgende opdrag gegee, soos in die Staatskoerant gepubliseer, ná deeglike konsultasie met hoofregter Mogoeng Mogoeng om die verspreiding van die virus in “alle howe, hofgebiede en regsdienspunte te bekamp.

’n Regsgeleerde het Woensdag gesê misdrywe waarin geen lewens in gevaar gestel is nie, word as “klein oortredings” gesien. “So die impak op die gemeenskap is baie min as daardie persoon vrygelaat word.”

Luidens afdeling 3 (e) van die kennisgewing in die Staatskoerant moet beskuldigdes wat vir ’n “klein oortreding” in hegtenis geneem is op waarskuwing uit die land se tronke vrygelaat word en ’n datum gegee word waarop hulle in die nabye toekoms in die hof moet verskyn.

Luidens afdeling 3 (f) moet polisielede en staatsaanklaers, waar nodig, borgtog vasstel vir mense wat van misdrywe onder afdeling 59 (1) en 59 A (1) van die Strafproseswet aangekla word.

gevangenes, regulasies
Die regulasies wat op 31 Maart 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Leon van der Merwe, ’n Kaapse prokureur, sê dit is gewoonlik misdrywe soos die besit van dwelms onder R20 000, diefstal onder ’n sekere bedrag, verkeersoortredings en ander misdrywe waarby geweld nie betrokke is nie.

Waar nodig, kan die skuldiges ’n boete oplê en vrylaat word.

Adeling 12 van Lamola se aankondiging in die Staatskoerant lui egter dat ’n regsprekende beampte van die hof, wat die voorsittende beampte in ’n hof is, en waar die belange van geregtigheid dit vereis, beveel dat van die regulasies afgewyk word.

Groot verwarring heers egter nou in Wes-Kaapse howe nadat hooflanddros Daniel Thulare verlede week in ’n skrywe opdrag gegee het dat howe onder sy jurisdiksie alle verhoorafwagtendes aan wie borgtog van R5 000 en minder vasgestel is, op waarskuwing vrylaat moet word.

Volgens inligting is daar ook aan die howe, wat sover as Worcester strek, ’n lys verstrek van name van verhoorafwagtendes wat hulle moet vrylaat.

Hofpersoneel het Maandag en Dinsdag gesê die meeste van die gevangenes wie se name of die lys verskyn en volgens Thulare se instruksies vrygelaat moet word, is mense wat op ernstige geweldsmisdade teregstaan.

“Baie van die mense het baie streng borgtogvoorwaardes nadat die staat die toestaan van borgtog teengestaan het. Die impak op die gemeenskap asook die persepsie wat dit by die publiek laat, is die ergste.”

Bronne van die Goodwood-gevangenes het Woensdag gesê hulle het ’n lys van meer as 200 verhoorafwagtendes in hul tronk aan Thulare se kantoor gestuur.

Baie van die mense op die lys staan glo op ernstige geweldsmisdade soos moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en roof met verswarende geweld tereg. Daar is ook enkele verhoorafwagtendes aan wie borgtog toegestaan is wat op aanklagte van verkragting, gesinsgeweld, kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer teregstaan.

Bronne van die Allandale-gevangenis in die Paarl en die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl het gesê daar is geen verhoorafwagtendes in hierdie tronke wat vir vrylating kwalifiseer nie.

Netwerk24 wou onder meer by die departement van justisie weet wat is “klein oortredings” en of hulle van Thulare se instruksies aan die Kaapse howe bewus is.

Daar is ook gevra of die departement van justisie ’n getal kan gee van die verhoorafwagtendes wat vrygelaat gaan word en wanneer dit gaan gebeur.

Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Howe  |  Koronavirus  |  Gevangenes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.