Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Willem Breytenbach in hegtenis geneem

Willem Breytenbach, sakeman, oudonderwyser en voormalige Media24-werknemer, is Dinsdag by 'n psigiater se praktyk in die kusdorp Hartenbos aan die Suid-Kaapse kus in hegtenis geneem. Hy was pas klaar met sy sessie toe hy in hegtenis geneem is.

Willem breytenbach
Willem Breytenbach kort nadat hy in hegtenis geneem is. Foto: Jaco Marais

Speurders verbonde aan die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) het van Kaapstad af gery met 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming, nadat die polisie drie strafregtelike sake teen hom geopen het wat verband hou met beweerde seksuele aanranding.

Breytenbach is eers teruggeneem na sy bejaarde moeder op Reebok se huis. Hy het 'n ander hemp aangetrek en is met 'n blou plastieksak in die hand na die speurders se wit Anvanza begelei. Hy het diep gesug toe hy om kommentaar gevra is, maar nie geantwoord nie. 

Die speurders het Dinsdagmiddag eers by Breytenbach se ma se huis na hom gaan soek. Net sy ma en skoonsuster was by die huis. Hulle het gesê Breytenbach is by sy psigiater op Hartenbos. 

willem breytenbach
Willem Breytenbach is Dinsdag by sy psigiater se praktyk in Hartenbos in hegtenis geneem. Foto: Jaco Marais

Een van die drie strafregtelike sake is dié van Deon Wiggett, die Johannesburgse kopieskrywer wat Breytenbach in podsendings wat oor ’n tydperk van vier weke uitgesaai is, geïdentifiseer het as die man wat hom glo as ’n tienerseun seksueel aangerand het deur hom (Wiggett) in sy "mond te verkrag”.

Nog beweringe teen Breytenbach word ondersoek.

Breytenbach (55) het nadat die eerste podsending uitgesaai is, nie net sy spoor op sosiale media uitgewis nie, maar ook sy onderneming, Lightspeed Digital Media, wat in die Cape Living-gebou in Pepperstraat, Kaapstad, gesetel was, se deure gesluit.

Hy het toe na Reebok uitgewyk, waar hy volgens bronne wat die huis die afgelope twee weke dopgehou het, feitlik 'n kluisenaarsbestaan gevoer het. Hy het twee weke gelede met Netwerk24 se eerste besoek aan die huis gesê hy sien om na sy bejaarde ma en hy gaan nie oor die beweringe teen hom kommentaar lewer nie.

Willem Breytenbach
Willem Breytenbach is geboei voordat hy na die kantoor vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mosselbaai geneem is. Foto: Jaco Marais

Breytenbach het sy loopbaan as onderwyser by Grey-kollege in Bloemfontein begin, waarna hy by die Hoërskool Willowmore in die Oos-Kaap en die Hoërskool Langenhoven op Riversdal skoolgehou het.

Hy was in die jare daarna onder meer onderwysverslaggewer en nuusredakteur by Die Burger en het die maatskappy se skoolkoerantprojek help bestuur.

Hy het ook in die koerant se promosie-afdeling gewerk, in Indië diens gedoen, was uitgewer van Media24 se weeklikse tydskrifte en het die marktedepartement van die tydskrifafdeling (wat advertensieverkope en sirkulasiebestuur insluit) gelei.

Daarna het hy twee ondernemings begin, Lumico (waar hy in 2018 weg is) en Lightspeed Digital Media.

Breytenbach sal na verneem word later die week in 'n landdroshof in Kaapstad verskyn.

Meer oor:  Willem Breytenbach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.