’n Vrou is Sondagmiddag in hegtenis geneem op aanklag van moord nadat sy na bewering ’n skoot met ’n windbuks op ’n rumoerige huurder geskiet het.
Luidens bronne huur verskeie mense kothuise op die hoewe naby Olympus in die ooste van Pretoria, waar daar ook ’n gemeenskaplike swembad is.
“Daar is gereeld, veral op Sondae, probleme met mense wat kuier en raas. Gister (Sondag) was dit weer so, en die 31-jarige vrou het herhaaldelik gevra dat die een man (die slagoffer) sagter praat,” het een van die huurders aan Netwerk24 gesê.
Die vrou het haar glo in ’n stadium vererg en ’n skoot met ’n windbuks in die swembad se rigting geskiet.
Sy was volgens bronne onbewus daarvan dat iemand getref is en het weer in haar huis ingegaan.
Die slagoffer het glo hierna weggestap. Hy is ’n ruk later ’n ent verder dood gevind, waarna die vrou in hegtenis geneem is.
Sy bly in aanhouding en sal Dinsdag in die hof verskyn.
Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die vrou aangekeer is nadat 'n 49-jarige man met 'n windbuks geskiet is.
* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.