Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wynboer ‘3 keer met 2 wapens geskiet’
Stefan Smit Foto: Facebook

Die wingerdboer Stefan Smit (62) is op Sondag 2 Junie drie keer deur twee van sy aanvallers met twee verskillende kaliber vuurwapens geskiet, het Netwerk24 gesaghebbend verneem.

Smit is in die eetkamer geskiet waar hy, sy vrou, Zurenah (53), en ’n familievriendin (71) so pas aandete geëet het. Zurenah is sy tweede vrou.

Smit is die eienaar van die Louiesenhof-wynlandgoed buite Stellenbosch op die R304.

Hy is glo een keer in sy kop, een keer in sy bors en een keer in sy gesig geskiet. Die eerste skoot was glo in sy kop.

Die vermoede bestaan dat ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer gebruik is om Smit mee te skiet.

Zurenah Smit Foto: Facebook

Zurenah was glo in die kombuis besig om tee te maak toe drie of vier onbekende gemaskerde mans deur ’n oop deur by hul huis op die plaas ingekom het.

Niemand kon egter tot nou toe sê hoe die aanvallers toegang tot Louiesenhof se erf of die huis gekry het nie. Daar is net een toegangshek en selfs om die erf is daar hakiesdraad, ’n geëlektrifiseerde heining en kringtelevisiekameras.

Die mans het glo reguit na Smit geloop waar hy by die eetkamertafel gesit het en het twee skote op hom geskiet.

Hulle het daarna die familievriendin se hande vasgebind en haar selfoon, handsak en horlosie geneem. Zurenah, wie se hande glo ook vasgebind was, se selfoon en handsak is ook geneem. Die vroue is verder ongedeerd gelaat.

Smit is glo die derde keer geskiet toe die mans die huis verlaat het.

Netwerk24 het vroeër berig ’n persoonlike lyfwag wat Smit in Augustus 2018 aangestel het kort nadat sy ander plaas Watergang langsaan onwettig deur agterplaasbewoners van Kayamandi beset is, was ook tydens die voorval in die huis. Dié lyfwag, Bradley van Eynslend (47), woon in ’n ander gedeelte van die huis. Die twee woongedeeltes word glo slegs deur ’n deur van mekaar geskei.

Bradley van Eynslend, die lyfwag Foto: Facebook

Van Eynslend, ’n voormalige kaptein in die polisie, is die eienaar van Uvulo Holdings, ’n onderneming wat onder meer private veiligheidsdienste lewer.

Hy het verlede Maandag aan Netwerk24 gesê dat hy niks gehoor het nie. Hy het slegs van die voorval bewus geword toe een van die vroue aan die deur gehamer het wat die wooneenhede skei.

Dit het egter nou bekend geword dat daar glo nog twee mans saam met Van Eynslend in sy wooneenheid was. Die twee mans is blykbaar ook voormalige polisielede.

Vuurwapenkenners het Dinsdag gesê dit is ongehoord dat iemand nie die skote sou hoor nie.

“ ’n 9 mm kan ’n hele woonbuurt wakker maak,” het een voormalige polisiebeampte gesê.

Watergang is in April vanjaar vir meer as R47 miljoen aan die Stellenbosch munisipaliteit verkoop.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Meer oor:  Stefan Smit  |  Stellenbosch  |  Wapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.