Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
#WithoutUs: So lyk ’n wêreld sonder vroue

Vroue wat op ’n ander manier standpunt wil inneem teen geweld teen vroue en kinders kan Woensdag aan die #WithoutUs-veldtog deelneem deur nie werk toe te gaan nie, en belangriker nog, níks te koop nie.

So sal die belangrike rol beklemtoon word wat vroue in die samelewing speel, sê Sibabalwe Sesmani, stigter van die veldtog en ’n entrepreneur. Dit sal druk op die land se leiers plaas om oplossings vir geslagsgeweld te vind.

“As vroue nie by die werk is nie, sal mans besef watter belangrike rol hulle vervul en dat hulle ons nodiger het as wat ons hulle het,” sê Sesmani.

Sy het die beweging begin nadat Uyinene Mrwetyana (19), ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad, in ’n poskantoor in Claremont verkrag en vermoor is.

Dit is maar een van verskeie voorvalle van geslagsgeweldmisdade die afgelope ruk.

In nog ’n voorval is Leighandre (Baby Lee) Jegels (30), ’n bokser van Oos-Londen, deur haar gewese kêrel, ’n polisieman, doodgeskiet.

Dié boodskap is op sosiale media versprei oor Woensdag se veldtog.
#WithoutUs is ’n nuwe beweging om oplossings vir geslagsgeweld te probeer kry.

“Ek het verlede Maandag baie hulpeloos gevoel en wou iets doen om standpunt in te neem en om te help,” sê Sesmani, wat toe #WithoutUs op sosiale media begin het.

“Mans moet weet hoe ’n wêreld sonder vroue sal lyk, want dit lyk asof hulle vroue heeltemal wil uitwis.”

Sy sê van die mishandelaars woon in huise waar vroue veronderstel is om veilig te voel.

“Kom ons sit koppe bymekaar om ’n oplossing te kry en om al die vroue in Suid-Afrika te betrek.”

Die veldtog moet tref waar dit die seerste maak.

“As ons Woensdag niks koop nie, sal hulle die impak finansieel voel,” sê sy.

Verskeie vroue van alle rasse oor die land heen het reeds aangedui dat hulle aan die veldtog gaan deelneem. Vroue wat dit oorweeg, sal egter vir die dag verlof moet insit, omdat deelname nie wettig is nie.

“Ons as vroue moet saamstaan, ongeag ons ras.”

Volgens Sesmani wil hulle ook ’n betoging reël wat hopelik oor ’n paar weke sal realiseer.

Volg die beweging op sosiale media onder die hutswoord #WithoutUs.

Meer oor:  Withoutus  |  Verkragting  |  Moord  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.