Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Witrivier: Familie platgeslaan ná moord op prokureur
Gerrit Stander (38) is Maandagoggend dood nadat hy in ’n gewapende rooftog geskiet is.

Sy broer was sy held en hy sal hom ewig dankbaar wees vir die gesinsman wat hy was, sê ’n hartseer MC Stander (41) van Witrivier, Mpumalanga, ná die dood van sy broer, Gerrit Stander (38).

Gerrit, ’n prokureur, is Maandagoggend dood nadat hy drie keer raakgeskiet is toe rowers toegeslaan het by sy huis op ’n kleinhoewe in Plaston in die Witrivier-omgewing.

Sy vrou, Yolandi, en sy agtjarige dogter was ook teenwoordig tydens die rooftog.

“Hy is ons hero. Hy sal altyd ons hero bly. Kyk net hoe het hy geveg om sy vrou en dogter se lewe te red tydens die rooftog. Hy het sy lewe opgeoffer vir hulle,” sê MC.

Hy sê die bende rowers het Maandag omstreeks 02:00 op Gerrit-hulle toegeslaan.

Volgens Jacques Slabbert, GPF-lid in die omgewing, het die rowers die hoewe se grensdraad geknip en die deur van die huis afgeskop om toegang te verkry.

“Gerrit en die rowers was in ’n skermutseling betrokke toe vyf skote afgevuur is. Drie skote het Gerrit getref, in die lewer, longe en arm,” sê hy.

MC sê dat Yolandi daarin kon slaag om ’n noodkreet op die familie WhatsApp-groep te plaas.

“My boetie Christiaan (31), wat ook op die kleinhoewe woon, is na Gerrit-hulle toe. Die rowers was reeds weg toe hy daar kom. Hy het vir Gerrit op die vloer gevind en met hom na die hospitaal gejaag,” sê hy.

Twee selfone, ’n skootrekenaar en ’n televisie word vermis.

Volgens MC is Gerrit omstreeks 07:00 dood.

“Hy was op pad om ’n noodoperasie te kry, maar hy is dood toe hulle hom in die teater ingestoot het,” sê MC.

Gerrit Stander (38) saam met sy dogter. Stander is noodlottig gewond in ’n rooftog by sy huis op ’n kleinhoewe in Plaston in die Witrivier-omgewing. Foto: Facebook/Gerrit Stander

Hy sê die gesin sukkel om die werklikheid van sy dood te aanvaar.

As MC nog een laaste ding vir sy broer kon sê, sou dit wees: “Dankie boeta. Dankie dat jy ons almal se belange op die hart gedra het. Jy is vir ewig my hero.”

Die familie sal binnekort begrafnisreëlings bekend maak.

Kol. Donald Mdhuli, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en roof.

“Dit is steeds onduidelik hoeveel verdagtes by die moord en rooftog betrokke was,” sê hy.

Slabbert sê die GPF is bewus van ’n bende rowers met vier tot vyf lede wat aktief is in die omgewing.

“Hulle was gisteraand besonders aktief. Daar is inwoners in die omgewing wat aangemeld het dat hulle grensdrade ook tussen Sondagaand en Maandagoggend gesny is,” sê hy.

Haylett Siebrits, direkteur van Swanepoel & vennote prokureursfirma in Mbombela waar Gerrit werksaam was, sê sy dood is beslis ’n verlies vir die maatskappy.

Gerrit Stander

“Hy was altyd hardwerkend en hy het so goed oor die weggekom met sy kollegas. Ons gaan hom mis,” sê hy.

Ook die gemeenskap van Plaston is stom geslaan oor Gerrit se moord.

Piet en Ilza van Tonder, gemeenskaplede wat naby aan Gerrit-hulle woon, sê Gerrit se afsterwe is ’n groot skok. “Dis vir ons bitter hartseer om te hoor van sy sinlose afsterwe. Jy sal by baie onthou word. Ons innige simpatie aan sy familie, vriende en kollegas. Mag jy sag rus by ons Hemelse Vader,” sê Piet en Ilza.

Intussen het die DA die moord op Gerrit ten sterkste veroordeel.

In ’n verklaring het Bosman Grobler, DA-LPW, ’n beroep op owerhede gedoen om die moordenaars vinnig vas te trek.

“Alle politieke partye moet nou saamwerk en daarop aandring dat ’n gespesialiseerde eenheid om aanvalle en moorde in landelike gebiede te voorkom en te ondersoek, deur die polisie gestig word,” lui die verklaring.

Meer oor:  Rowers  |  Moord  |  Gerrit Stander  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.