Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Woedende betogers saai chaos in Kimberley

Chaos het Donderdag in Kimberley uitgebreek toe inwoners die stad se strate ingevaar het om teen swak dienslewering te betoog.

Honderde woedende betogers het vroegoggend bande aan die brand gesteek, asdromme omgegooi en naamborde afgeruk om paaie mee te versper.

Die polisie het met rubberkoeëls en skokgranate op die betogers losgebrand om hulle uiteen te jaag.

Woedende stakers het bande aan die brand gesteek, asdromme omgegooi en naamborde afgeruk om paaie mee te versper.Foto: Christiaan Cloete

Minute later het ’n luide gesing weer die strate gevul toe die stakers voor die Sol Plaatje-munisipaliteitsgebou saamgedrom het.

Hulle het die ingange na die munisipale gebou in Dalhamweg met klippe en bakstene versper.

Die betogings het kookpunt bereik toe ontstoke inwoners polisielede met klippe en bakstene begin gooi en die polisie met rubberkoeëls en skokgranate teruggekap het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê drie mense is beseer en na die naaste hospitale gebring.

Twee mans het kopbeserings opgedoen en ’n vrou ’n enkel-fraktuur nadat bakstene en klippe hulle getref het.

Betogings het ook na ander dele van die dorp uitgebrei. Motoriste wat verby die burgersentrum gery het, is met klippe bestook.

Ondernemings is vooraf gewaarsku om nie hul deure tydens die protesoptrede te open nie, maar talle winkels in Barklyweg en die middestad is tog deur betogers beskadig en geplunder.

Die West End-vleismark, ’n slaghuis in die Pick n Pay-sentrum in die middestad, se vensters is uitgegooi.

Talle stakers het voor die Sol Plaatje-munisipaliteitsgebou saamgedrom en bande gebrand. Foto: Christiaan Cloete

Adriaan de Klerk, eienaar van die slaghuis, sê: “Ons was toe soos daar versoek is. Ek was op die plaas toe ’n sekuriteitswag my laat weet het dat daar hordes mense is wat die glasvensters met klippe bestook.”

Volgens De Klerk is hy baie teleurgesteld in die mense wat sy onderneming beskadig het.

“West End doen baie vir die gemeenskap. Ons het 26 sopkombuise en ons help gereeld as daar skool- en kerkgeleenthede is. Dit was veronderstel om ’n vreedsame optog te wees en kyk nou,” sê De Klerk.

Teen Donderdagmiddag het betogers ook die R31-pad tussen Kimberley en Barkly-Wes met groot klippe versper.

Brande is aan die brand gesteek om verskeie strate in Kimberley te versper. Foto: Christiaan Cloete

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, sê dat die DA al lank van mening is dat die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Mangaliso Matika, die trekpas moet kry en dat hy die munisipale bestuurder, Goolam Akharwaray, en die finansiële hoof, Lydia Mahloko, saam met hom moet vat.

“Nie een van hierdie individue gee vir die mense van die provinsie om nie. Hulle jaag selfbelang na terwyl die gewone mense daaronder ly,” sê Louw.

“Hulle het ’n diktatorskap in die munisipaliteit gevorm en reël onwettige vergaderings en keer onwettige begrotings goed. Hulle teer van die gewone mense af sodat hulle hul lewe van weelde kan lewe,” meen Louw.

Volgens Louw is hulle verantwoordelik vir die elektrisiteitstariefkrisis omdat hulle nie die belang van die mense in ag geneem het nie.

Die DA het die geweld en vandalisme wat met die protesoptrede gepaard gegaan het, ten sterkste veroordeel.

Meer oor:  Kimberley  |  Beserings  |  Skade  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.