SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Woedende ouers dien klagte in teen ‘toerman’

’n Groep woedende ouers van Krugersdorp het klagte van diefstal en bedrog teen ’n organiseerder van sporttoere aanhangig gemaak nadat hy hulle na bewering uit duisende geswendel het.

Michael Beyneveldt (39) met die lys van betalings. Hy beweer die mense in rooi het nie betaal nie. Foto: Deon Raath

Michael Beyneveldt (39) het na bewering op kort kennisgewing drie internasionale toere vir skoolkinders afgestel nadat die meeste ouers reeds betaal het. Die ouers beweer Beyneveldt trek net sy skouers op as hulle hul geld terugvra.

80 hokkiespelers tussen die ouderdomme van 14 en 16 jaar sou eerskomende Woensdag na Nederland vlieg, maar het die afgelope Woensdag gehoor die toer is gekanselleer.

So ook 24 o.16-seuns van die Noordvaal-groep (en die ouers van drie van hulle) wat hierdie week na Argentinië sou vlieg, maar wie se toer ook Woensdag afgestel is.

Die rugbyouers het elkeen R37 500 per kind vir die toer opgedok.

Ouers glo waarde van toere is meer as R4 m.

Dan was daar die groep van Apcan Security wat ook hierdie week na Argentinië sou vlieg, maar óók Woensdag gehoor het dit gebeur nie meer nie.

Die waarde van die drie toere beloop volgens Beyneveldt ongeveer R4 miljoen, maar die ontstelde ouers glo dis baie meer.

Beyneveldt voer aan die toere is gekanselleer weens wanbetaling deur van die ouers, maar die ouers verwerp dit. Hy voer aan dat sy kontrakte met ouers bepaal dat ’n toer afgelas word as almal nie betaal nie. Hy sê omdat hy reeds deposito’s aan sy oorsese diensverskaffers moes betaal, kan hy nie ouers ten volle vergoed nie.

Barco Smit, ’n ouer van een van die Noordvaal-seuns wat na Argentinië sou gaan, het ’n finansiële rekonsiliasie van hul groep se betalings gedoen.

Danté Fouché (17), Divan de Jager (17), Renaldo Visser (17) en Louis Viljoen (17) wat op die toer na Argentinië sou gaan. Divan se pa het spesiaal dié outydse leerbal laat maak met sy naam en “Argentinië 2019” daarop. Foto: Hendrik Hancke

“Daarvolgens was ons alle uitstaande gelde ten volle betaal op die dag wat Beyneveldt die toer gekanselleer het. Twee mense het nog nie ’n ekstra R5 000 betaal nie en een ander lid was R3 000 kort, maar hulle het reëlings met Vision Sport gehad. Een ouer wat onttrek het, het reeds R20 000 betaal. Sy geld het dus meer as opgemaak vir die drie bedrae wat nog kort was.”

Hy stem nie saam met Beyneveldt se verskonings vir kansellasie nie.

“Hy sê die ouers wat nie by die betalingskedule gehou het nie, het veroorsaak dat sekere dinge duurder geword het.

“Dis absolute onsin. Ons het met die diensverskaffers in Argentinië gepraat. Hy het nog niks aan hulle betaal nie,” sê Smit.

Beyneveldt hou egter vol dat al drie hierdie toere gekanselleer moes word omdat al die ouers nie betaal het nie.

Kanselleer glo weens wanbetaling.

Jenny van Blerk (13) van Secunda in Mpumalanga sou hierdie week vir die eerste keer oorsee gegaan het.

“My hart is gebreek. Die verste wat ek nog ooit van die huis af was, is Mosambiek.

En Divan de Jager (17) se pa het spesiaal vir hom ’n outydse rugbybal van leer laat maak met sy naam en “Argentinië 2019” daarop gedruk, maar nou is daardie droom aan skerwe.

Rapport verstaan dat daar al voorheen probleme met Beyneveldt se toere was.

’n Bron wat voorheen by Vision Sport werksaam was en nie geïdentifiseer wil word nie, het gister teenoor die koerant beweer dat daar “verskeie” ander soortgelyke probleme die afgelope paar jaar was.

“Daar is nog baie stories wat moet uitkom.

“So was daar die Split Second-atletiektoer na Europa wat in Junie en Julie sou plaasvind wat op die nippertjie gekanselleer is.

“Dan is daar die Suid-Afrikaanse Meesters Wêreldkriekettoernooi wat in Oktober vanjaar plaasgevind het; daar was ook probleme met geld vir verblyf.”

Die bron beweer met die Woestynsportfees wat in April vanjaar deur die Walvis Bay Private High School aangebied is, was daar ná afloop van die toer steeds uitstaande rekeninge van diensverskaffers in Namibië van R190 000.

Beyneveldt het nie ontken dat hy nog sowat R50 000 vir sy Namibiese verskaffers skuld nie.

Hy sê “amper al die ouers” van die Split Second-atletiektoer se geld is terugbetaal” en hy skuld nog “omtrent nog so twee mense” R5 000 elk.

Quintus Eksteen, ’n weermaglid van Pretoria, sê sy seun, Eduan (16), ’n leerling aan die Hoërskool Eldoraigne, was deel van ’n Vision Sport-toergroep wat in Junie en Julie na Sri Lanka sou reis. Ná die Paasfees-bomaanvalle in dié land is ander opsies oorweeg, maar die hele toer is uiteindelik op 14 Oktober gekanselleer.

Die koste van die toer was in vyf paaiemente van tussen R5 000 en R7 000 betaalbaar. Die laaste sou aangepas word “na gelang van die wisselkoers” en was op 15 Mei – drie weke ná die bomaanvalle – betaalbaar. Die toer is uiteindelik op 14 Oktober gekanselleer. Eksteen beweer Beyneveldt skuld hom meer as R30 000.

Beyneveldt sê dié betrokke toer sou eers Engeland toe gegaan het, maar weens die Wêreldbeker-krieket was al die pryse te hoog.

“Ek het ná samesprekings met die ouers besluit ons verskuif die toer na Sri Lanka. Toe ek later van die onrus-situasie daar verneem, het ek dadelik die groep gekontak en in kennis gestel.”

Ouers is destyds per e-pos verwittig dat hul geld terugbetaal sou word.

Beyneveldt is glo gereeld by sporttoernooie waar leerlinge “gekies” word vir een van sy toere.

Een so ’n ouer, wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê: “Dis eintlik ’n heel kille storie. Wie kan betaal, kan gaan. Dit gaan glad nie oor talent of prestasies nie.”

Meer oor:  Michael Beyneveldt  |  Swendelaar  |  Sporttoere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.