Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wolseley-moord: Jain glo versmoor

Renée Jain (50) van Wolseley, dogter van André (Bakkies) Rossouw, ’n oudredakteur van Sarie, is in haar landgoedwoning deur haar moordenaars versmoor, vermoedelik met ’n kussing.

Bronne met inligting oor die ondersoek het die afgelope week gesê haar hande en voete was met ’n elektriese kabel agter haar rug vasgebind.

Die kabel is ook om haar nek gebind. Sy is vermoedelik daarna versmoor.

Renée Jain Foto: Facebook

Netwerk24 het Donderdag betroubaar verneem dat die ondersoek na Jain se moord nou deur die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad oorgeneem is.

Die bronne het gesê net Jain se selfoon, tablet of skootrekenaar en juweliersware word vermis.

Die juweliersware is glo Saterdag in die voertuig van ’n ander egpaar, wat ook op die landgoed woon en ook deur Jain se vermeende moordenaars beroof is, by die begraafplaas in Tulbagh gevind.

Die juweliersware is glo in ’n sokkie in die gesteelde voertuig gevind.

Die rooi pyl dui Renée Jain en haar man, Raj, se huis op die De Vierde Liefde-landgoed buite Wolseley aan. Foto: Maygene de Wee

Speurders van die eenheid vir georganiseerde misdaad probeer nou glo vasstel hoekom veiligheidskameras in die Jain-egpaar se huis nie gewerk het nie.

Ondersoek word ook ingestel na hoe die aanvallers by die landgoed ingekom en toegang verkry het. Volgens die bronne was daar geen gedwonge toegang tot die huis nie.

Die De Vierde Liefde-landgoed is op die De Liefde-pad sowat 3 km vanaf die Dwarsrivier-tronk buite Wolseley geleë.

Daar is ’n heining om die landgoed en toegang kan slegs deur ’n elektroniese toegangshek verkry word.

’n Bron het gesê daar is ses huise op die landgoed, insluitend die huis van die opsigter.

Die toegangshek by die De Vierde Liefde-landgoed. Foto: Maygene de Wee

Jain is verlede Vrydag in haar en haar man, Raj, se huis op die landgoed vermoor.

Raj was tydens die moord in Kaapstad en sou glo die Saterdag na Wolseley terugkeer.

Die egpaar het glo hul eiendom op die “leefstyl-landgoed” ’n jaar of twee gelede gekoop en in 2020 hul huis gebou. Jain het blykbaar die week voor die moord verlof gevat om die uitleg van hul tuin klaar te maak.

Haar lyk is Saterdag omstreeks 03:30 deur die polisie aangetref nadat hulle op ’n klag van ’n inbraak by ’n ander huis op die landgoed gereageer het.

Sers. Meryll Africa, polisiewoordvoerder op Wolseley, het Woensdag gesê drie mans wat Afrikaans praat, het by die huis van ’n bejaarde Nederlandse egpaar ingebreek.

Dié egpaar se huis is glo meer as 400 m van die Jain-egpaar se huis.

Die huis met die rooi pyl is die huis waar Renée Jain Vrydagaand vermoor is. Die wit woning regs is die huis waar die Nederlandse egpaar, wat ook beroof is, woon. Foto: Maygene de Wee

Die mans het glo omstreeks 23:30 ’n swaar olifanthoutbeeld wat buite op die stoep staan, deur die skuifdeur by die egpaar se slaapkamer gegooi en so toegang tot die huis verkry.

Die egpaar was volgens Africa reeds in die bed en is deur die mans vasgebind. Hulle het glo geld en die egpaar se voertuig se sleutels geëis.

Die egpaar is volgens Africa in hul badkamer toegesluit. Hulle kon hulle loswikkel en het deur ’n badkamervenster na buite gevlug, waarna hulle die alarm geaktiveer het.

News24 het Woensdag berig terwyl die polisie by die Nederlandse egpaar se huis was, het die landgoed se opsigter die polisie ingelig dat Jain nie haar telefoon beantwoord nie.

Dit was omstreeks 03:30. Die polisie is na haar huis en het haar lyk in die slaapkamer gekry.

’n Saak van moord en roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jain was ’n IT-kenner en ’n saketoepassingsbestuurder by Cape Union Mart.

Vroeër is berig Raj het Vrydagaand in Kaapstad oorgeslaap omdat hy werk moes afhandel. Hy sou Saterdag teruggekeer het huis toe.

Volgens Raj se Facebook-profiel is die egpaar in Januarie 2012 getroud.

Meer oor:  Renée Jain  |  Versmoor  |  Moordenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.