Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wolseley-moord: ‘My kind is soos rommel weggegooi’, sê ma
Een van die grafte in die veld wat deur die polisie en inwoners ontdek is.

“My hart is stukkend, daar is nie woorde vir die pyn wat ek voel nie, my oudste kind is wreed gemartel, verwurg en soos rommel weggegooi.”

Só het Kristien Marthinus, ’n ma van vyf, haar oudste dogter se laaste oomblikke beskryf nadat sy Saterdagaand in die Bolandse dorpie Wolseley glo aan die hand van ’n “inkommer” in die dorp gesterf het.

Bernadine Frans, (21) was Saterdagaand die prooi van ’n vermeende reeksmoordenaar wat glo vroue in die gemeenskap hier in die visier het.

Die woonbuurt huisves meestal plaaswerkers en seisoenswerkers wat in die omgewing werk.

’n 33-jarige man het Frans glo in sy woonwa vermoor. Hy was daarna glo op pad om van haar lyk ontslae te raak toe inwoners sy planne in die wiele ry.

Die man is aangekeer toe inwoners van die Pine Valley- informele nedersetting gesien het hoe ’n man iets sleep wat soos ’n liggaam lyk.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê die polisie is ontbied, waarna hulle op ’n vrou se lyk afgekom het.

“Die verdagte, wat in die gebied woon, is in hegtenis geneem.”

Bernadine Frans (21) wat Saterdagaand deur ’n vermeende reeksmoordenaar in Wolseley vermoor is.

Die polisie is Sondag weer ontbied nadat ’n verbyganger ’n vlak graf in ’n oop stuk veld ontdek het. Die polisie het die lyk van ’n ongeïdentifiseerde vrou hier opgegrawe.

’n Verdere deursoeking van die gebied het tot die ontdekking van ’n tweede graf gelei, nie ver van die eerste een nie.

“Nog ’n lyk, waarvan die identiteit, ouderdom en geslag nog bepaal moet word, is daar gevind. Die polisie was nog tog laat Sondag op die toneel om vir leidrade te soek,” sê Potelwa.

Marthinus sê sy was nie in die dorp toe haar kind aangeval is nie en het eers Sondag van die gru-ontdekking gehoor.

“Ek was op vakansie by my familie in Porterville en het glad nie geweet wat gebeur het nie, totdat my man, Liaan, my Sondag ingelig het.”

Martinus sê die tyding het haar swaar getref aangesien Bernadine nie by hulle gebly het nie en sy haar nie baie gesien het nie.

“Sy was ’n mooi kind, sy was soms stout en gruwelik, maar sy was my kind. Dit was ’n groot skok om te hoor dat sy dood is.”

Sy sê sy het Maandag haar dogter se lyk by die lykhuis in Ceres gaan uitken.

“Van wat ek kon sien was dit duidelik dat sy verwurg is. Daar was merke om haar nek en sy het blou kneusplekke gehad, haar wang was ook gebyt. Dit het gewelddadig gelyk,” het sy gesê.

Volgens Marthinus het drie mans wat van ’n dansplek af gekom het, op die verdagte afgekom waar hy glo van haar dogter se lyk ontslae wou raak.

Die verdagte se woonwa is deur die gemeenskap aan die brand gesteek.

“As dit nie vir hulle was nie, sou ek nooit geweet het wat van my dogter geword het nie. Ek sou nooit geweet het wat met haar gebeur het nie en of sy dood is of selfs weggeloop het nie. So ek wil daardie manne bedank uit die diepte van my hart, ten minste weet ons wat gebeur het.”

Marthinus beskryf haar dogter se moordenaar as ’n gewetelose reeksmoordenaar wat hulle van geen kant af geken het nie.

Volgens haar het sy by ander mense verneem dat haar dogter haar moordenaar wel geken het en in daardie gebied waar hy woon, gekuier het.

“My hart bloei nou vir die ander families. Hulle is in my gebede terwyl hulle wag vir antwoorde oor hul geliefdes se oorskot wat Sondag in die veld gevind is.”

Teen Maandag het Wolseley behoorlik gegons oor die “reeksmoordenaar” wat hier ontdek is.

Die verdagte het volgens inligting in ’n woonwa in die woongebied gebly en was glo ’n stil man.

Woedende inwoners het Saterdagaand sy woonwa aan die brand gesteek.

Die dorp was gespanne en inwoners het Maandagaand weer by die stuk veld saamgedrom nadat dit aan die lig gekom het dat die verdagte weer op die toneel was en hy glo grafte aan die polisie uitgewys het.

Die polisie het deur die dag na nog grafte gesoek, maar kon niks vind nie.

Jacob Zalie, ’n gemeenskapsleier, het Maandag gesê die hele voorval is eienaardig en lyk soos ’n gruwelrolprent. Hy sê die inwoners sukkel om die voorval te verwerk en kon nie glo toe hulle uitvind die verdagte het nog moontlike grafte uitgewys nie.

“Hierdie man was nie bekend aan ons nie. Hy is ’n Sotho-man wat soos baie ander as inkommers van Lesotho af hier aangekom het op soek na werk.”

Hy sê die inwoners van die gebied is dalk arm en hulle ken swaarkry, maar die mense het steeds respek en dissipline.

Zalie sê die mense is nou bang in hulle eie huise, bly agter geslote deure en wil nie hul kinders eens toelaat om winkel toe te gaan nie.

Die uitgebrande woonwa waarin die verdagte gebly het. Foto: Jaco Marais

Die mense wil nou in opstand kom teen die “inkommers” wat net verwoesting kom saai en by mense se huise inbreek, beweer hy.

“Dis die tweede tragiese insident in minder as ’n week. Die eerste was toe ’n agt maande oue baba verlede week in sy pa se arms doodgeskiet is.”

Zalie sê die gemeenskap wil opruk na die plaaslike landdroshof om te vra dat die verdagte nie op borgtog vrygelaat word nie.

Pastoor Brian Albertus sê daar is kommer onder die inwoners dat die dodetal gaan styg en dat daar op nog slagoffers afgekom gaan word. “Mense wil nou weet hoe is dit moontlik dat hulle nie geweet het dat daar ’n monster in hul midde is nie.”

Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die hof hier verskyn.

Mense met inligting oor die identiteit van die slagoffers, of wat tot hul dood gelei het, word versoek om sers. Pieters by 079 894 0195 te bel of die polisie se Stopmisdaadnommer by 0860 010 111.

Meer oor:  Wolseley  |  Bernadine Frans  |  Reeksmoordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.