Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Wolseley-moorde: 3de slagoffer se identiteit bevestig

Die familie van die derde moordslagoffer wie se lyk verlede jaar in ’n vlak graf in Wolseley gekry is, is opnuut getraumatiseerd nadat haar identiteit oplaas deur DNS bevestig is.

Gizella Minnaar (33) se oom, Figel Minnaar, sê dit was ’n groot skok toe die polisie hulle Woensdag per brief daarvan in kennis stel dat die DNS-toetse se uitslag positief is.

“Ons het nog altyd gehoop sy lewe en dit is baie moeilik om te aanvaar. Veral haar kinders is baie hartseer,” sê Figel.

Gizella Minnaar (33) se lyk is in Oktober in ’n vlak graf in Wolseley gekry.

Minnaar se lyk is die derde wat in Oktober verlede jaar in ’n vlak graf in die Pine Valley- informele nedersetting in Wolseley gekry is.

Siyamcela Sombambela (32) word daarvan aangekla dat hy vroue in dié informele nedersetting vermoor het. Dit is meestal plaas- en seisoenwerkers wat daar woon.

Na verneem word, is hy net van twee moorde aangekla, maar volgens Figel sal die derde moordklag glo bygevoeg word wanneer Sombambela Woensdag weer in die landdroshof verskyn.

Sombambela het in Desember in die hof verskyn nadat hy ’n skulderkenning in verband met die gru-vonds aan die polisie gemaak het.

Minnaar se lyk en dié van Bernadine Frans (21) en Miché Pienaar (25) is op twee afsonderlike geleenthede ontdek nadat die polisie ’n wenk opgevolg het. Hulle het ’n man op heterdaad betrap waar hy ’n lyk gesleep het.

Figel sê hulle was op die toneel en het die lyk van ’n vrou in ’n vlak graf gesien en gedink dit kan Minnaar wees. Hulle moes egter vyf maande wag vir die DNS- toetse om gedoen te word om dit te bevestig.

Hy sê hy weet nie wanneer hulle haar sal kan begrawe nie omdat haar lyk nog by die polisie is.

“Sy was so ’n liewe mens en het haar kinders goed grootgemaak. Ja, sy het haar eie struwelinge gehad, maar sy het haar kinders die regte lesse probeer leer sodat hulle nie dieselfde foute as sy maak nie.”

Die polisie op Wolseley het bevestig hulle het Woensdag die uitslae van die DNS-toetse bekom en die familie ingelig dat dit Minnaar se oorskot is.

Meer oor:  Wolseley  |  Moorde  |  Identiteit  |  Slagoffer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.