Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Twis lei glo tot doodskiet van 2 by vulstasie

Die skietery vroeg Vrydagaand by ’n vulstasie in Bandelierkop langs die N1 in Limpopo waarin ’n man en sy seun dood is, is glo voorafgegaan deur ’n woordewisseling tussen ’n taxibestuurder en een van die mans.

Netwerk24 verneem op goeie gesag dat daar op kringtelevisiebeeldmateriaal van die Viva-vulstasie gesien kan word hoe André Duvenhage (52) in ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie omstreeks 18:30 teenaan ’n minibustaxi stilgehou het.

Daar kan glo gesien word dat Duvenhage en die 33-jarige taxibestuurder met mekaar praat. Wat gesê is, is ’n raaisel. Kort daarna klim Duvenhage uit sy bakkie en pluk die taxi se deur oop.

Danie en André Duvenhage is Vrydagaand in Bandelierkop doodgeskiet. Foto: Verskaf

Duvenhage se seun Danie (29) het glo met ’n mes uit die bakkie geklim.

Terselfdertyd het die taxibestuurder sy pistool probeer kry en homself per ongeluk in sy een knie geskiet. Hy het toe nog skote geskiet, waarvan een vir Duvenhage en twee vir Danie getref het.

Die skietery het gevolg ná ’n beweerde padwoedevoorval kort tevore op die N1 naby Bandelierkop.

Danie en sy verloofde, Catherine van Dyk, en hul seun, Gideon (2), was laat Vrydagmiddag van Louis Trichardt op pad na Bandelierkop om by Duvenhage te kuier.

Catherine sê die taxi wou hulle glo van die pad in die aankomende baan se verkeer in druk. Danie het sy pa in die ry gebel en vertel wat gebeur het.

Danie Duvenhage (29) is Vrydagaand in Bandelierkop in Limpopo doodgeskiet. Foto: Verskaf

Die taxi het regs vanaf die N1 afgedraai na die Viva-vulstasie in Bandelierkop. Danie het ook daar afgedraai en na die Bandelierkop-hotel, naby aan die vulstasie, gery.

Catherine en Gideon is afgelaai en Duvenhage het saam met sy seun na die vulstasie gery.

“Ek dink Danie wou die bestuurder van die taxi moontlik oor die padwoedevoorval aanvat,” sê Catherine.

Duvenhage het in die Bandelierkop-hotel gebly. Sy meisie, Stephani Steynberg, wat by die hotel werk, is intussen deur iemand by die Bandelierkop-polisiekantoor gebel en ingelig dat André geskiet is.

“Ek het alles neergooi en na die vulstasie toe gehardloop.”

Die vulstasie is sowat ’n blok vanaf die hotel. Steynberg sê haar bene het onder haar meegegee toe sy André bloeiend op die plaveisel by die vulstasie sien.

“Hy het daar gelê en vir my gesê hy is lief vir my. Ek kon gelukkig sy hand vashou voordat hy in die ambulans weg is.”

Duvenhage is later die aand in die Louis Trichardt-gedenkhospitaal, sowat 40 km verder, dood.

’n Werknemer by die kafee het sowat 30 m verder in ’n bedding by die vulstasie op Danie afgekom. Hy is op die toneel dood.

Die Duvenhages se familie is geskok oor wat gebeur het.

Die afrit vanaf die N1 in Limpopo na Bandelierkop. Foto: Rudzani Tshikororo.
Die vulstasie in Bandelierkop waar 'n pa en seun doodgeskiet is. Foto: Rudzani Tshikororo
Die Bandelierkop-vulstasie waar 'n man en sy seun Vrydag doodgeskiet is. Foto: Rudzani Tshikororo
Die vulstasie in Bandelierkop in Limpopo waar 'n pa en sy seun doodgeskiet is. Foto: Rudzani Tshikororo

“Dit is so onnodig en tragies,” sê André van Dyk, Danie se stiefpa. Hy en Danie se ma, Amanda, het Vrydagnag nadat hulle van die skietery gehoor het van Centurion na Bandelierkop gery.

“Die N1-noord vanaf Polokwane is ’n nagmerrie. Al is dit ’n tolpad, is dit meestal enkelbane. Motoriste is ongeduldig en gee nie gehoor aan die padreëls nie,” sê hy. Die Capricorn-tolhek is sowat 6 km vanaf Bandelierkop.

Amanda van Dyk sê sy, Danie en Gideon sou Saterdag by haar familie in Polokwane gaan kuier het.

Sy sê Danie was lief vir die Bosveld, sy familie, jag en om rekenaarspeletjies te speel.

Dit is so onnodig en tragies.

Die taxibestuurder is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê dit is nie duidelik wanneer hy op twee aanklagte van moord in die hof sal verskyn nie.

Dit is nog nie bekend wanneer ’n gesamentlike roudiens vir Danie en André gehou sal word nie.

Meer oor:  Danie Duvenhage  |  André Duvenhage  |  Bandelierkop  |  Pa  |  Taxibestuurder  |  Seun  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.