Stefan Smit (62), wynboer van die Louiesenhof-wynlandgoed buite Stellenbosch, is Sondagaand in 'n rooftog doodgeskiet.
Die polisie het egter nog nie sy identiteit bekend gemaak nie en slegs bevestig dat ’n 62-jarige man op ’n plaas in die Stellenbosse omgewing vermoor is.
Pieter Haasbroek, 'n vriend van Smit, het in 'n e-pos wat aan Netwerk24 aangestuur is, geskryf: "Hulle was besig om aandete te eet saam met vriende toe vier gemaskerde mans die huis binnegekom het. Hulle het Smit doodgeskiet. Wat ons gevrees het, het waar geword."
Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê vier aanvallers het op die plaashuis toegeslaan.

Die Louisenhof-wynlandgoed. Foto: Jaco Marais
Dit blyk dat hulle die huis binnegekom het by ’n deur wat nie gesluit was nie.

Stefan Smit Foto: https://www.louiesenhof.co.za/about/
Die oorledene se vrou en ’n familievriend was ook in die huis, maar is nie in die aanval beseer nie.
Traut sê besittings van die familie is in die voorval gesteel, waarna die aanvallers gevlug het. Hulle is steeds op vrye voet.
Louiesenhof was onlangs in die nuus nadat die eienaars ’n uitsettingsbevel teen agterplaasbewoners probeer kry het.
Die munisipaliteit van Stellenbosch het in Oktober 2018 gevra dat regter Siraj Desai, wat die Henri van Breda-moordsaak behartig het, die behuisingsprobleem tussen plaasboere en agterplaasbewoners oplos.
Die saak het uit ’n aansoek gespruit van vier aansoekers wat ’n uitsettingsbevel probeer bekom het nadat plakkers onwettige strukture op die wynplaas Watergang opgerig het.

Die hek na die Louisenhof-wynlandgoed. Foto: Jaco Marais
Die onwettige besetting van Watergang, wat deel is van ’n familietrust wat die wynlandgoed Louiesenhof insluit, het reeds in Augustus 2018 begin.
Dié besetters, wat agterplaasbewoners van die nabygeleë Kayamandi is, het die plaas glo tot Azania herdoop.
Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het die voorval veroordeel.
Agri Wes-Kaap het Maandagoggend in 'n verklaring sy skok en hartseer oor die moord op Smit uitgespreek.
"Mnr. Smit is die tweede slagoffer van 'n plaasmoord in minder as 'n maand in die Wes-Kaap nadat mnr. Tool Wessels van Bonnievale in Mei vermoor is.
"Agri Wes-Kaap versoek pres. Cyril Ramaphosa om sy uitsprake op Dinsdag 9 April op Beyerskloof naby Stellenbosch te verduidelik toe hy gesê het wit landbouers het 'n toekoms in die land en dat hy wil keer dat hulle die land verlaat."
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê in die verklaring hy wil by Ramaphosa weet hoe 'n organisasie soos Agri Wes-Kaap produsente moet aanmoedig om in 'n land te bly waar hul en hul plaaswerkers se lewe elke dag bedreig word.
"Hy sê die landboubedryf kan dit nie langer bekostig dat die regering, ministers en instellings wat met veiligheid belas is, nie die veiligheid van landbouers en plaaswerkers ernstig opneem nie. Agri Wes-Kaap betuig ons innige meegevoel met mnr. Smit se naasbestaandes en vriende."