Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Zimbabwiër vas 6 jaar ná Britse vrou se moord in Thabazimbi

Op die vooraand van die dag presies ses jaar gelede toe ’n Britse vrou op ’n wildplaas buite Thabazimbi in Limpopo glo eers verkrag en toe vermoor is, is haar vermeende moordenaar in Johannesburg in hegtenis geneem.

Christine Robinson (59) se keel is op 31 Julie 2014 afgesny en sy is verskeie kere met ’n mes gesteek op die Rra Ditau-wildplaas, enkele kilometers buite Thabazimbi.

Christine Robinson (59) is in 2014 op 'n wildplaas buite Thabazimbi in Limpopo vermoor. Foto: Verskaf

Netwerk24 het destyds berig dat Robinson glo op die dag van haar moord geld onttrek het om werkers op die wildplaas te betaal.

Die Britse media het ook oor die grusame moord berig. 

’n Zimbabwiër wat by haar gewerk het, is deur die polisie weens haar moord gesoek. Die 30-jarige man het egter in 2014 na Zimbabwe gevlug.

Ian Cameron, wat destyds as hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid by die ondersoek betrokke was, het onlangs inligting van die publiek oor die man gekry.

Hy het foto’s van die man, wat intussen gereeld van Zimbabwe na Suid-Afrika gereis het, op sosiale media gedeel.

Cameron het saamgespan met oudkol. Gawie Louwrens wat in 2014 die polisie se ondersoekspan na die moord gelei het. Louwrens het intussen uit die polisie bedank en staan nou aan hoof van Bosveld-misdaadondersoeke, ’n misdaadbekampingsorganisasie in Limpopo.

Hulle het deur speurwerk vasgestel dat die man in Johannesburg woon en werk.

Cameron en Louwrens het in samewerking met die polisie in Gauteng en Limpopo Donderdagaand die man by sy nuwe blyplek in Johannesburg in hegtenis geneem.

Die vermeende moordenaar van 'n Britse vrou word Donderdagaand in Johannesburg in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Cameron sê hy het deur die jare kontak behou met Robinson se familie in Engeland.

Lehanne Sergison, ’n niggie van Robinson, het aan Cameron gesê dat die familie gesukkel het om afsluiting te kry omdat haar tannie se vermeende moordenaar vir ses jaar op vrye voet was.

“Dit voel baie goed dat die vermeende moordenaar uiteindelik in hegtenis geneem is. Die gereg moet nou sy loop neem en hopelik bring dit ’n mate van berusting vir haar familie,” sê Cameron.

Volgens hom is Sergison en die res van Robinson se familie verheug dat die man agter tralies is. Cameron het onlangs as hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum bedank en gaan vir eers tyd saam met sy gesin deurbring.

Die Zimbabwiese man sal die naweek in aanhouding wees en vermoedelik Maandag in die landdroshof in Thabazimbi op aanklagte van verkragting en moord verskyn, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Meer oor:  Thabazimbi  |  Christine Robinson  |  Verkragting  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.