Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Misdaadnes’ nou avontuurpark
Matthew Lachenicht laat wiel in die Wolwespruit-fiets-en-veldlooppark. Hy was een van die eerste mense wat dié nuwe park se bergfietsroetes kon beproef. Foto: Hendrik Steytler

’n Gemeenskap het ingegryp en ’n negatiewe element in sy omgewing op eie onkoste in iets positiefs verander.

Die gemeenskap van Erasmuskloof, in die ooste van Pretoria, het ’n stuk veld, wat eens ’n “misdaadnes” was, op eie onkoste laat omhein.

Dié stuk veld is nou omgeskep in die Wolwespruit-fiets-en-veldlooppark.

Volgens Johan Fischer (27), ’n bedryfsingenieur, het hy die potensiaal van dié stuk veld raakgesien en die eienaar, Carl Erasmus, gevra of hulle die grond by hom kan huur en in ’n fietspark kan verander.

“Hy was baie ingenome met die idee en het ’n groot finansiële bydrae gemaak om die heining op te rig,” sê Fischer.

“Die Mediclinic Kloof-hospitaal het ook geld gegee vir die heining omdat hul personeel wat saans vir busse en taxi’s wag, geteister is deur misdadigers wat in die veld gebly het.”

Fischer en sy broer, Charl, het hulle ook oor die Wolwespruit ontferm wat deur die park loop.

“Ons het ongeveer 150 m3 se rommel daar uitgehaal en al die glas en metaal – sowat 15 t – is herwin.

“Ons volgende stap gaan wees om al die swartwattel- en oliebome om die spruit uit te haal,” sê hy.

Dié park is net oor naweke oop, maar Fischer sê hulle beplan om teen September daagliks oop te wees.

“Daar is nou 10 km se veldlooppaadjies en 15 km se bergfietspaadjies uitgelê. Ons beoog ook om in die volgende twee weke ’n kinderbaan en speelarea oop te maak,” sê hy.

Nog planne sluit dié vir ’n fietsrywinkel en ’n restaurant op die perseel in.

Volgens rdl. Francois Bekker van die DA was dié stuk veld baie lank ’n groot probleem.

“Dit was die ideale wegkruipplek vir misdadigers en sluipslapers,” sê hy.

“Almal verwag altyd die Tshwane-metro moet in sulke gevalle optree, maar dis ook verstaanbaar dat hulle nie by alles kan uitkom nie.

“Hierdie is werklik ’n voorbeeld wat voorgehou kan word aan ander gemeenskappe. Ons moet eienaarskap neem van ons omgewings en betrokke raak,” sê Bekker.

  • Vir meer inligting besoek ​wolwespruit.co.za of die Facebook-blad by “Wolwespruit Mountain Bike & Trail Park”.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.