Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mnr. tv-webwerf gesluit

Meneer.tv, ’n gewaagde humor-webwerf wat veral op mans gemik is en dikwels oor rugby en vroue gaan, is deur Media24 toegemaak omdat een van hul werknemers daarby betrokke is.

Die webwerf is die afgelope naweek deur Johan Pienaar, ’n IT-spesialis en sosiale aktivis, en Mandy de Waal op Twitter gekritiseer vir inhoud wat as “onsensitief” bestempel is.

Een van dié sogenaamd onsensitiewe plasings is “14 Redes waarom Afrikaanse chicks lekker raps”.

Die webwerf word bestuur deur Jaco Kirsten, redakteur van WegRy, en Emmanuel Spamer, ’n advokaat van Kaapstad.

Die webwerf se Facebook-blad is ook intussen tydelik opgeskort.

Prof. Pumla Gqola, wat in Afrika-studies en feminisme aan die Universiteit van die Witwatersrand spesialiseer, het gister van die inhoud op die webwerf bestudeer en dit as onvanpas bestempel.

“Ek dink dit kan selfs gevaarlik wees. Maar die webwerf doen nie iets onwettigs nie, hulle mis daardie grens net-net. Dit is egter smaakloos en skep daardie idee dat vroue dom en goedkoop is. En hoewel hulle voorgee dat dit net onskuldige pret is, is dit ook in dieselfde asem skadelik. Hulle maak ernstige kwessies, soos verkragting en huishoudelike geweld, lig,” het Gqola gesê.

“Ek is ook nie oortuig dat die inhoud as satire beskou kan word nie. En onthou: Al is dit satire, is dit nie noodwendig vanpas nie.”

Volgens dr. Anthea van Jaarsveld, ’n dosent van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat, kan satire soms gevaarlik wees.

“Satire is hoe jy dit sê, nie wat jy sê nie. Die satirikus dink hy is soms verhewe bo die inhoud en kan los daarvan staan. Jy sal ook nie die lyn kan trek wanneer jou satire onder die belt is nie, dit word alles deur jou gehoor bepaal,” het Van Jaarsveld gesê.

Kirsten het ’n versoek om kommentaar na Media24 verwys.

Media24 het in amptelike kommentaar gesê: “Ons is bewus gemaak van Jaco Kirsten se betrokkenheid by Meneer.tv, ’n webwerf wat niks met Media24 te doen het nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.