Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
optog teen munisipaliteit
Molteno-boere betoog saam teen swak dienslewering
Boere uit die Molteno-distrik het gister met trekkers, bakkies, motors en sleepwaens by die optog teen die Inkwanca-munisipaliteit aangesluit. Kragvoorsiening is al só sleg dat ’n groot biltongfabriek na die Baai hervestig en 50 mense hu
Die vreedsame optog deur Molteno. Die Inkwanca-munisipaliteit het onder meer die munisipale hoofsetel op eie houtjie uit Molteno na die veel kleiner dorpie, Sterkstroom, 24 km verder, verskuif. Nou moet die mense soontoe ry om hul munisipale r
’n Boer maak ’n plan, maar ’n boervrou nóg ’n beter plan. Wat sit dan nou lekkerder tydens ’n betoging as sulke opslaanstoele in ’n koeltrok?

PORT ELIZABETH. – Ná gister sal Molteno, die Oos-Kaapse dorpie naby Queenstown, vir veel meer bekend staan as die tuiste van Ouma-beskuit.

Dít nadat keelvol boere, werkers, en inwoners van die townships – nagenoeg 1 500 mense – die strate uit gesamentlike protes teen die Inkwanca-munisipaliteit ingevaar het.

“Wit én swart het saamgestaan. Ons het gewys Suid-Afrikaners is nie apart nie, ons is sáám in hierdie streek,” het Meyburg Erasmus, boer van die omgewing, gesê.

“Swak dienslewering en die skandalige behandeling van sommige munisipale amptenare het ons saamgebind,” het hy bygevoeg.

Die verwysing na die amptenare hou verband met die feit dat 43 van hulle in Februarie net 50% van hul salarisse ontvang het en in die daaropvolgende sewe maande géén salaris nie, het Luzuko Yalezo (32), wat in Julie sonder rede as munisipale amptenaar afgedank is, verduidelik.

“Ons het almal saamgestaan – swart, wit, groen, sakemens, boer, boervrou, werkers en werkloses, want ons kan nie meer so aangaan nie.”

Agter Yalezo kon jy die trekkers hoor dreun en mense hoor sing.

“Die boere ken Xhosa, hulle kan saamsing én saamdans. Hulle vroue ook,” het Thembelani Ndevana (49) gesê.

Vriende en familie help hom en sy gesin om te oorleef. Hy is een van die werkers wat die afgelope sewe maande nie salaris ontvang het nie.

“Ek is baie dankbaar dat die boere saamgekom het. Gewoonlik is dit net werkers wat betoog,” het Ndevana bygevoeg.

Maar tog sal nog mense hul werk verloor, het Erasmus uitgewys.

“Besighede trek omdat die paaie so vrot en die krag kort-kort af is. Stormberg Farms, die fabriek wat al jare lank biltong hier vervaardig, verskuif na Port Elizabeth. Minstens 50 plaaslike werkers het nou hul werk verloor.”

ANC-faksie-struwelinge binne die munisipaliteit en verkose leierskorps het dienslewering op die afdraandepad gesit, het Mamnkeli Ngam, woordvoerder van Fikile Xasa, LUR vir plaaslike regering, bevestig.

“In Februarie al het ons artikel 154 (1) van die Grondwet, wat die provinsiale regering toelaat om by ’n munisipaliteit in te gryp, begin toepas, maar die enigste uitweg wat oorgebly het, is om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.”

Van die inwoners, en so ook Kobus Botha, DA-LP vir die distrik, meen Bhisho het hopeloos te lank voete gesleep met dié administrasie-stap.

Volgens die beswaardes is die Kabuso- forensiese verslag, wat grootskaalse bedrog en korrupsie – wat tot die nie-betaling van werkers, en onvoorspelbare krag- en watervoorsiening gelei het – onthul het, al in Januarie uitgereik.

“Hulle (huidige uitvoerende amptenare en leierskorps) moes lankal weg gewees het,” het Erasmus gesê.

Hierop het Ngam gesê die regsdokumente vir die Inkwanca-munisipaliteit se ontbinding is gereed en dat die huidige politieke en administratiewe leiers vervang gaan word.

“Ek verstaan die mense se frustrasie, maar ons moes op elke letter van die wet let, anders het daar weer uitgerekte hofsake gekom.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.