Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
2 hoës van Sol Plaatje op verlof geplaas

Vrydag die dertiende het nie goed in Kimberley begin nie met die aankondiging dat die Sol Plaatje-munisipaliteit sy munisipale bestuurder en finansiële hoof weens die gewelddadige betogings in die stad op verlof geplaas is.

Die gewelddadige betogings van Donderdag, waarin paaie versper en winkels geplunder is, is Vrydagoggend na die R31-roete buite die stad gevoer, waar die pad weer versper is.

Die polisie het die betogers met rubberkoeëls en skokgranate uiteen probeer jaag.

Gedeeltes van Beaconsfield, Kimberley, is Vrydagoggend ook met klippe en brandende buitebande versper. Foto: Verskaf

’n Inwoner sê Galeshewe se winkels is ook Donderdag en Vrydag in die gewelddadige betogings geplunder.

“Dit lyk soos ’n oorlogsone. ’n Mens is te bang om foto’s te neem.”

Gedeeltes van Beaconsfield is Vrydagoggend ook met klippe en brandende buitebande versper.

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê Goolam Akharwaray, munisipale bestuurder, en Lydia Mahloko, finansiële hoof, is tydelik op vrywillige verlof geplaas.

Dit kom ná die eise van betogers dat hulle moet bedank of afgedank word.

Die betogers is ontevrede met ’n kontrak van R1,2 miljoen wat die munisipaliteit met ’n onbekende diensverskaffer aangesluit het om SMS’e oor elektrisiteitskwessies aan inwoners te stuur. Die tender hiervoor is glo nie na behore geadverteer nie.

Hulle eis ook dat die basiese kragtarief van R260 geskrap word en met die prysstyging van 5,95% op elektrisiteit weggedoen word. Hulle wil hê die tariewe moet eerder verlaag word.

Volgens Matsie gaan ’n ondersoek gedoen word en verder met die gemeenskap beraadslaag word.

“Ons moet die geweld oplos. Ons nooi die gemeenskap om te onderhandel en nie te toe laat dat geldige eise deur misdaad en wetteloosheid in die wiele gery word nie.

“Die kwessie sal na ’n spesiale raadsvergadering verwys word, waar amptelike terugvoer oor die ondersoek gegee sal word.

“Daar is ’n dringende behoefte aan ’n vreedsame oplossing omdat mense toegang tot skole en hospitale moet kry en dit veilig genoeg vir ondernemings moet wees om hul deure te open.”

Die polisie vuur Donderdag met rubberkoeëls op die oproeriges in Kimberley. Foto: Christiaan Cloete

Die gemeenskap en infrastruktuur moet beskerm word, en sake moet so vinnig as moontlik na normaal terugkeer, sê hy.

Deshi Ngxanga, die ANC se provinsiale sekretaris, sê die party het Donderdagmiddag met die politieke en administratiewe leierskap van die munisipaliteit beraadslaag.

“Die sogenaamde vreedsame betogings is deur misdadigers oorgeneem, wat ons ten sterkte veroordeel. Die ANC sal die situasie oplos, maar die mense moet geduldig wees.

“Ons het aanbeveel dat twee amptenare hangend ’n ondersoek met verlof gaan sodat ons met die gemeenskap kan onderhandel.

“Ons versoek enigiemand met inligting oor misdadige voorvalle gedurende die betoging om na vore te kom.”

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Sol Plaatje  |  Kimberley  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.