Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
22 stukke staatsgrond in Wes-Kaap oorweeg vir behuising

Sowat 22 stukke staatsgrond is in Kaapstad en die Wes-Kaap geïdentifiseer vir geïntegreerde behuisingsontwikkelings wat huise vir lae-inkomstegroepe sal insluit.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het dit Dinsdag in die parlement bekend gemaak. Sy het ook gesê die nasionale regering wil “meer geïntegreerde stede sien en stadsbeplanning uit die apartheidsera omkeer”.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur. Foto: ADRIAN DE KOCK

Haar departement het aansoeke ontvang van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, verskeie munisipaliteite en die Behuisingsontwikkelingsagentskap om dié 22 stukke staatsgrond beskikbaar te stel.

Die aansoeke is egter aan die voorgeskrewe administratiewe prosesse onderworpe voordat sy en die nasionale tesourie dit vir die doeleinde van menslike nedersettings kan goedkeur.

“Sodra daardie prosesse afgehandel is, sal die 22 stukke grond beskikbaar gestel word.”

Tim Brauteseth, DA-LP, wou weet waarom De Lille nie ook staatseiendomme soos dié in Ysterplaat, Denel, Culemborg, Youngsfield en Upper Darlingstraat in Kaapstad beskikbaar stel vir behuising vir lae-inkomstegroepe nie.

Emma Powell, DA-woordvoerder oor water, sanitasie en menslike nedersettings, het ook De Lille en haar departement vroeër Dinsdag oor dié stukke grond gekritiseer en gesê altesame meer as 93 000 laekostehuise kan hier gebou word.

Powell het vertel hoe sy en ’n kollega vroeër ’n vervalle gebou van die departement in Upper Darling-straat besoek het waar meer as 30 families in haglike omstandighede woon.

De Lille het tydens ’n mondelingse vraag-en-antwoordsessie in die Nasionale Raad van Provinsies in antwoord op Brauteseth se vraag gesê dit is al drie regeringsfere se verantwoordelikheid om staatsgrond vir menslike nedersettings beskikbaar te stel.

Sy het gesê die weermagpersele wat Brauteseth noem, “is ingevolge ou wetgewing deur die koningin van Engeland aan die weermag geskenk”.

“Ek kyk nou hoe ons daardie wet kan herroep omdat ek nie hier is om die koningin van Engeland te dien nie, maar die Grondwet van hierdie land.

“Ek wil egter ook noem dat daar sowat 3 000 ander stukke grond in die Kaapse metropool is wat onmiddellik beskikbaar is om huise op te bou.”

Op die vraag of haar departement ook van sy residensiële eiendomme vir menslike nedersettings landwyd beskikbaar sal stel, het De Lille gesê die nasionale raamwerk vir dorpsontwikkeling is vir die volgende 90 dae oop vir openbare kommentaar. Sy sê dit sal bepaal vir watter doeleindes haar departement grond beskikbaar moet stel.

“Die departement het baie ongebruikte grond en geboue en ons sal deur die aanbevelings van die verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou gelei word oor hoe om dit vir grondhervorming beskikbaar te stel.”

Sy sê haar departement het sedert 1999 sowat 181 eiendomme van altesame sowat 11 696 ha landwyd vir grondhervormingsdoeleindes beskikbaar gestel.

Oor dié tydperk is ook 22 staatseiendomme van sowat 2 700 ha vir menslike nedersettings beskikbaar gestel en 60 staatseiendomme van 21 739 ha vir landbou- en landelike ontwikkelingsdoeleindes.

Op ’n vraag oor die onwettige besetting van staatsgrond, het De Lille bevestig dat sowat “1 500 stukke staatsgrond tans onwettig beset word. Dit is net dié waarvan ons weet.”

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Wes-Kaap  |  Kaapstad  |  Behuising  |  Politiek  |  Staatsgrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.