Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
5 300 in departement van water en sanitasie weer op hul pos

Die sowat 5 300 werknemers van die departement van water en sanitasie, almal lede van die vakbond Nehawu, het ’n “gunstige ooreenkoms” met die nuwe minister bereik en was Dinsdag weer op hul pos.

Nehawu het die ooreenkoms Dinsdagaand in ’n verklaring as ’n oorwinning bestempel.

Die Nehawu-lede het op 8 Maart onder meer oor swak werksomstandighede en korrupsie in die departement begin staak.

Zola Saphetha, hoofsekretaris van die vakbond Nehawu (regs), en sy adjunk, December Mavuso, op ’n vroeëre mediakonferensie. Foto: Argief

Hulle was ongelukkig oor die “eensydige besluit” van Nomvula Mokonyane, die voormalige minister van water en sanitasie, om die nege agentskappe vir opvangsgebiede tot een te sentraliseer.

Gugile Nkwinti, haar opvolger, het glo belowe om vir eers halt te roep met die proses.

Nehawu was ook ongelukkig omdat die konstruksie-eenheid in die departement feitlik geen werk gedoen het nie, terwyl Mokonyane teen geweldige koste konstruksiewerk uitgekontrakteer het.

Nkwinti het toegegee dat die konstruksie-eenheid moet herleef.

Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu, het gesê die ooreenkoms is Maandagaand bereik, net drie dae nadat die meeste werknemers van die departement begin staak het.

Die departement en die Nehawu-lede het nou die strydbyl begrawe, het Saphetha gesê.

Die departement het ook onderneem dat die beginsel van geen werk, geen betaling nie sal geld nie.

Volgens Saphetha sal Nehawu moontlik formeel met Themba Godi, voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge, kan praat oor die korrupsie en wanadministrasie wat die departement op sy knieë gebring het.

“Ons is bereid om alle inligting tot ons beskikking met die komitee te deel. Hierdie inligting is ook by ons regsverteenwoordigers wat vir ons ’n mening sal gee oor moontlike strafregtelike klagte,” het Saphetha gesê.

“Dit is ’n stryd wat ons nie gaan verloor nie,” het hy gesê. “Ons is vasbelote dat diegene wat vir die ineenstorting van die departement verantwoordelik was, voor die gereg gedaag sal word en daarvoor sal boet.”

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê hy sal moontlik Woensdag namens die departement reageer.

Meer oor:  Nehawu  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.