Ses munisipaliteite in Limpopo wat die afgelope drie jaar nie ’n skoon ouditverslag kon kry nie, gaan nou deur die Valke en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek word.
Dié stap kom nadat amptenare van die munisipaliteite Woensdag voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verskyn het.
“Dit is skokkend dat niemand by dié munisipaliteite verantwoordbaar gehou word nie,” sê Skoor in ’n verklaring.
Die ses munisipaliteite is die Mogalakwena-munisipaliteit in Mokopane (Potgietersrus), die Mopani-distriksmunisipaliteit, die Thabazimbi-munisipaliteit, die Vhembe-distriksmunisipaliteit, die Joe Morolong- en die Phokwane-munisipaliteit.
Skoor het ná sittings met die munisipaliteite besluit om die Valke en die SOE opdrag te gee om met ondersoeke te begin.
Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake moet Skoor teen Maandag inlig wat hulle gaan doen om die ses munisipaliteite te help om behoorlik te kan funksioneer.
Lede van Skoor was veral geskok oor die Vhembe-distriksmunisipaliteit wat in die 2017-’18-boekjaar besluit het om R1 miljoen aan Florence Radzilani, oudburgemeester, te betaal, al het dié munisipaliteit R300 miljoen verloor omdat hulle dié geld onwettig by die omstrede VBS Mutual Bank belê het.
“Skoor vind dit kommerwekkend, want dit dui op ’n gebrek aan leierskap. Dié kwessie gaan beslis met die aangewese wetstoepassers opgeneem word,” lui ’n verklaring van Skoor.
Radzilani het verlede jaar uit haar amp as burgemeester bedank nadat die bom oor VBS gebars het.
Die Mopani-distriksmunisipaliteit sal voortaan deur Skoor gemonitor word nadat die ouditeur-generaal die afgelope vier jaar geen mening oor hul geldsake kon gee nie.
Skoor dring nou aan op ’n uiteensetting van die R296 miljoen wat die Mopani-distriksmunisipaliteit aan Lepelle Northern Water, wat die gebied van water voorsien, betaal het. Ondanks dié bedrag skuld die munisipaliteit Lepelle steeds R571 miljoen.
Skoor het gehoor die Mogalakwena-munisipaliteit het komitees wat oor die toekennings van tenders besluit, glo onwettig aangestel. “Dit beteken dat etlike tenders op bedrieglike wyse toegeken is.”