Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
6 nuwe trokke sal Potch se vullispyne verlig

Potchefstroom en Ventersdorp se voortslepende probleme met vullisverwydering is moontlik voorlopig opgelos noudat die plaaslike munisipaliteit ses splinternuwe vullisverwyderingsvragmotors gekoop het.

Willie Maphosa, woordvoerder van die J.B. Marks-munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, sê die munisipaliteit het reeds R10,4 miljoen vir die vragmotors betaal en dit sal na verwagting reeds volgende week in gebruik geneem word nadat die laaste papierwerk afgehandel is.

Die munisipaliteit het saam met die ses nuwe vragmotors ook twee bestaande vragmotors wat in ’n werkende toestand is. Dit beteken daar is nou agt van die vragmotors in die gebied, terwyl daar in Desember net een werkende vragmotor was. Dit het veroorsaak dat vullis soms weke gestaan het voordat dit uit woonbuurte verwyder is.

Eddie Modiakgotla (regs) en Hendriko Veldman, onderskeidelik bestuurder en toesighouer oor vullisverwydering in Potchefstroom, by die nuwe vullisverwyderingsvragmotors nadat dit vandeesweek in Potchefstroom aangekom het. Foto: Verskaf

“Die nuwe voertuie se instandhoudingskoste sal laag wees danksy ’n instandhoudingskontrak van vyf jaar met ’n plaaslike agent,” het Maphosa gesê. Agt ander voertuie wat gereeld breek, sal nou ook herstel kan word omdat daar genoeg ander is om te ry.”

Intussen is Noordwes se provinsiale regering nog besig om iemand te identifiseer wat voldoende toegerus is om die administrasieproses in Potchefstroom en Ventersdorp te behartig.

Die agterkante van die splinternuwe vullisverwyderingsvragmotors. Foto: Verskaf

Dineo Thapelo, woordvoerder van die provinsie se departement van plaaslike regering, het Donderdag gesê dis ’n tydrowende proses omdat sulke administrateurs dikwels mense van buite is wat ook ander werk doen. “Ons weet daarom nog nie presies wanneer die administrateur na J.B. Marks sal gaan nie.”

Die J.B. Marks-munisipaliteit is in Mei onder administrasie geplaas. ANC- en EFF-raadslede in die munisipaliteit het aanvanklik so erg daarteen geskop dat ’n spesiale vergadering met onder andere dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, gereël is. Die ANC en EFF het gemeen alles verloop klopdisselboom in J.B. Marks.

Op die vergadering met die provinsiale regering is egter besluit dat die munisipaliteit wel onder administrasie geplaas sal word ingevolge hoofstuk 139 (b) (1) van die Grondwet omdat hier steeds talle uitdagings is. Dit beteken ’n administrateur werk in ’n raadgewende hoedanigheid by die munisipaliteit, terwyl die bestaande bestuurskorps aanbly.

Die DA en VF Plus verwelkom die administrasieproses weens beweerde “korrupsie en ’n afwaartse spiraal van diensleweringsprobleme op verskeie vlakke”. Dit het blykbaar begin nadat die munisipaliteite in Ventersdorp en Potchefstroom in 2016 saamgesmelt het. Die samesmelting is wyd betreur, veral omdat dit waarskynlik gedoen is om te keer dat die DA in die destydse plaaslike verkiesing beheer oor Potchefstroom neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.