Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Ace se Kubaanse bande kos VS-munisipaliteite R85 m.

Die ANC se Kubaanse bande kos Vrystaatse munisipaliteite R85 miljoen.

Ace Magashule. Foto: Argief

Motshidisi Koloi, LUR vir die departement openbare werke en infrastruktuur, sê in antwoord op ’n vraag in die wetgewer sedert 2015-’16, toe die program in die Vrystaat begin is, tot in die 2019-’20-geldjaar is altesaam R84,7 miljoen aan Kubaanse ingenieurs by Vrystaatse munisipaliteite bestee.

Leona Kleynhans, DA-LW, het die vraag hieroor in die Vrystaatse wetgewer gerig.

Sy sê Olly Mlamleli, voormalige LUR vir die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het in 2015 aangekondig dat Kubaanse tegniese adviseurs na plaaslike munisipaliteite ontplooi sou word. Die doel was om menslike nedersettings te ontwikkel en bestaande informele nedersettings op te gradeer.

Dit het gebeur nadat Ace Magashule, voormalige premier, Kuba verskeie kere besoek het.

Tim Mokhesi, hoof van die departement menslike nedersettings, het in September 2015 spesifieke vereistes aan munisipaliteite deurgegee waaraan Kubaanse tegniese ingenieurs moes voldoen wat ’n “tweeledige ooreenkoms” tussen die Republiek van Kuba en sy departement betref.

Munisipaliteite moes elke Kubaanse ingenieur van die volgende voorsien:

* Vergoeding op vlak elf (’n adjunk-direkteurspos) van tussen R596 000 en R670 890 per jaar;

* ’n Gratis retoervlug na Kuba;

* Vervoer in Suid-Afrika;

* Ten volle gemeubileerde behuising;

* 24-uur veiligheidstelsel; en

* Selfoonkontrakte.

Volgens Koloi sluit die R84,7 miljoen wat op die Kubane bestee is, die volgende in:

* R54,7 miljoen in vergoeding;

* R6,4 miljoen vir vliegkaartjies;

* R15 miljoen vir verblyf;

* R5 miljoen vir motors van die staatsgarage;

* R245 000 vir Engelse en Sotho-klasse;

* R64 800 vir rybewyse;

* R2,4 miljoen vir reis en etes; en

* R510 000 vir ’n verwelkomingsgeselligheid.

Sedert Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, se vertrek uit die provinsie het die Kubaanse tegniese ingenieurs van 37 in 2015 tot drie in November 2018 verminder.

Leona Kleynhans. Foto: Argief

Die DA het klagtes ontvang oor ’n tekort aan werklike werk vir die Kubane en die onbekwaamheid wat by munisipaliteite bestaan, sê Kleynhans.

Sy sê van die Kubane het beweer dat hulle slegs R8 000 per maand van die R50 000 per maand wat aan hulle beloof is, ontvang het.

“Dit blyk dat ’n deel van hul salaris aan die Kubaanse regering oorbetaal is en daar word beweer dat politici en amptenare van die Vrystaatse provinsiale regering ook begunstigdes kon wees van die ideologies gemotiveerde ooreenkoms.”

Kleynhans sê indien munisipaliteite gekwalifiseerde ingenieurs wou gehad het, kon hulle geskikte werklose, plaaslike gegradueerdes aangestel het.

Die DA meen dat die vier jaar lange eksperiment tot geldwassery gelei het om geld uit munisipaliteite in die koffers van ’n buitelandse regering te tap met moontlike voordele vir die betrokke amptenare en politici.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.