Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Afgradering van metro ‘geen verrassing’

Die pionne van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier, is besig om die

Hans Britz, DA-raadslid in die Mangaung-metro, sê Ace Magashule se pionne is besig om die hele Mangaung-metro te vernietig.Foto: Facebook

-metro te vernietig.

So het Hans Britz, DA-raadslid en oud-finanshoof van die metro, gesê nadat die internasionale kredietgradeerder Moody’s die metro verder met drie kerwe afgegradeer het nadat hy banke om uitstel moes vra om sy lenings te betaal.

Toe Mxolisi Siyonzana, speaker en streekvoorsitter van die ANC in Mangaung, vir kommentaar oor die afgradering genader is, het hy gesê hy is nie bewus daarvan dat die metro verder afgegradeer is nie, en dat hy later kommentaar daaroor sal lewer.

Britz sê ’n mens kan lankal sien dat die metro bankrot raak.

“Al wat die ANC doen as dit onder sy aandag gebring word, is om dit te ontken. Die munisipaliteit het baie skuld en die beskikbare kontant in die bank is vir maande skraps. Die personeelkoste van R166 miljoen per maand is buitensporig hoog.”

Hy sê die besteding van geld deur Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, is skokkend.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro (ANC), wat volgens lede van die opposisie die raad se geld verkwis.Foto: Netwerk24

“Sy bly net geld uitgee. Dit lyk asof sy nie die vaagste benul het van hoe om met geld te werk nie. Ons het reeds bewys dat die uitvoerende burgemeester se begroting uitermatig groot is, groter as dié van die finansiële departement.

“Dit wil ook voorkom asof die munisipaliteit op die een of ander manier die nasionale tesourie ’n rat voor die oë draai, want alles gebeur onder hul neuse ondanks die finansiële verslae wat die munisipaliteit gereeld by die nasionale tesourie moet indien.”

Britz sê die ongunstige ouditeursverslag beklemtoon dit.

“Altesaam R266 miljoen het in die vorige boekjaar weens waterverliese verlore gegaan omdat daar nie geld vir die instandhouding van die waternetwerk is nie.”

Hy sê die onkundigheid in die ANC in die metro is ontstellend.

Britz sê die munisipale tariewe is boonop te hoog, wat maak dat meer verbruikers nie hul rekenings betaal nie.

“Die gevolg is dat die skuld ophoop. Dis nou al meer as R6 miljard. Die inkomste om die uitgawes te finansier is onvoldoende, maar die ANC is nie bereid om die uitgawes te sny nie.”

Prof. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus in die Mangaung-metro, sê die ANC plunder Vrystaatse munisipaliteite só dat hulle nie basiese dienste kan lewer nie. Foto: Facebook

Dít regverdig afgradering

Prof. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-lid in die metroraad, sê die Moody’s-afgradering is die soveelste bewys dat die ANC nie in staat is om die metro te regeer nie.

“Dit sluit aan by die gekwalifiseerde ouditverslag wat die metro van die ouditeur-generaal (OG) gekry het. Die afgradering en die gekwalifiseerde ouditverslag onderstreep die standpunt van die VF Plus dat die ANC nie vir die inwoners omgee nie.

“Dat die ANC swak aanstellings maak en dat baie amptenare in bestuursposte nie hul werk kan of wil doen nie.”

Sy sê maatreëls moet ingestel word om goeie finansiële bestuur te verseker. Koste moet besnoei word en basiese dienste gelewer word.

Snyman van Deventer sê die ANC is nie in staat om die metro geldelik te bestuur nie en kan nie eens basiese dienste lewer nie.

Mxolisi Siyonzana, speaker van die Mangaung-metro, sê hy het nie geweet Moody’s het Mangaung verder afgegradeer nie.Foto: Netwerk24

“Die VF Plus het reeds in Mei ’n versoek aan die nasionale tesourie gerig om die metro met ’n regruk-plan by te staan, maar dit is duidelik dat daar selfs op nasionale vlak geen politieke wil is om Mangaung te red nie.”

Sy sê die ANC plunder die munisipaliteite in die Vrystaat tot so ’n mate dat hulle nie meer basiese dienste kan lewer nie.

“Ná die munisipale verkiesing in 1996 het die ANC ’n stad met beleggings en infrastruktuur oorgeneem. Hulle moes dit bloot in stand hou en die infrastruktuur na ander gebiede uitbrei. Hulle het in dit alles misluk.

“Dit is dus duidelik dat die afgradering geregverdig is.”

Baba Sebolao, raadslid van die EFF in die Mangaung-metro, sê dit verbaas hom nie dat Moody’s die metro verder afgegradeer het nie, want die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, beantwoord nooit sy telefone nie. Foto: Argief

Dis nie ’n verrassing

Baba Sebolao, EFF-leier in die metroraad, sê hulle was die verdere afgradering deur Moody’s te wagte, “want wat kan ’n mens van ’n onbevoegde stadsbestuurder soos adv. Tankiso Mea verwag wat nie eens sy telefone kan beantwoord nie?”

Hy weet niks en wag vir die ANC om vir hom voor te skryf.

“Mea moet aangekla, geskors en afgedank word. Mlamleli doen ook alles net op die ANC-manier. Olly is van dieselfde groep. Sy het nie ’n benul wat sy doen en wat onder haar leiding aan die gang is nie.”

* Mlamleli en Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die metro, het nie hul telefone beantwoord toe hulle om kommentaar gebel is nie. Mea het ook weer nie een van sy twee telefone beantwoord nie.

Meer oor:  Moody's  |  Ace Magashule  |  Mangaung  |  Metro  |  Afgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.