Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
AfriForum met dooie vis en riool na Emfuleni

AfriForum se jeug moes Maandagoggend onverrigter sake na Johannesburg terugkeer met ’n tenk waarin twee dooie modderbekke was en emmersvol rou riool omdat niemand by die Emfuleni- plaaslike owerheid bereid was om dit te aanvaar nie.

Ohann Fourie van AfriForum-jeug, Chris Boshoff van AfriForum se omgewingsafdeling en Michelle Peens, koördineerder van AfriForum in die Oos-Vrystaat. Foto: Elise Tempelhoff

Marcus Pawson van AfriForum en sy omgewingspan het egter ’n memorandum met eise oor die besoedeling van die Vaalrivier in die gang by Oupa Nkoane, munisipale bestuurder, se kantoor opgeplak.

Pawson het gesê niemand wou die memorandum, die dooie visse of die emmers riool aanvaar nie. Nkoane was nie beskikbaar om hulle te woord te staan nie.

Nkoane was glo in Johannesburg “vir ander sake”.

Luidens die memorandum het die Emfuleni- plaaslike owerheid 48 uur om op AfriForum se eise te reageer.

Dit sluit onder meer in dat AfriForum binne die voorgestelde tyd kopieë eis van die waterlisensies van al die rioolsuiweringsaanlegte wat deur die Emfuleni- plaaslike owerheid bestuur word.

AfriForum eis ook kopieë van al die afvalbestuurslisensies van die rioolsuiweringsaanlegte en kopieë van aksieplanne en datums waarop dit in werking gestel gaan word.

Pawson het gesê AfriForum wil ook weet wanneer uitbreiding aan die stelsel gedoen gaan word.

Volgens hom sal strafregtelike klagte teen Nkoane aanhangig gemaak word as hy nie die betrokke antwoorde binne 48 uur verskaf nie.

Hy het gesê dit is “uiters kommerwekkend” dat Emfuleni se rioolinfrastruktuur só verval het.

Nkoane word in die memorandum daaraan herinner dat die plaaslike owerheid deur mense se belastinggeld befonds word en dat hulle daarom die reg op behoorlike dienste het.

“Basiese, behoorlike sanitasiegeriewe is die voorgestelde minimum diens wat gelewer moet word om te verseker dat inwoners gesond bly.”

Luidens die memorandum is dit ’n strafregtelike oortreding om ’n rivier of enige ander waterbron te besoedel.

Pawson het gesê dit wil vir AfriForum voorkom asof basiese dienste in Emfuleni in duie gestort het en dat geen onderhoud aan infrastruktuur gedoen word nie.

Hy het gesê AfriForum het baie foto’s geneem van rioollekkasies, gebarste pype en pompe, asook mangate, waarvan die rioolwater direk in die Vaalrivier loop. Dit sal alles as getuienis in ’n strafregtelike saak gebruik kan word, het hy gesê.

Dit sal verbeter, maar dit gaan tyd en geld kos.

AfriForum was verlede week ook in Parys waar hy ’n strafregtelike klag teen Bruce Kannemeyer, munisipale bestuurder, aanhangig gemaak het omdat die inwoners van dié dorp se drinkwater so besoedel is dat hulle dit nie kan drink nie.

Alet van der Walt het berig Kannemeyer het gesê dit pla hom nie regtig dat AfriForum ’n strafregtelike klag teen hom ingedien het nie. Hy wou AfriForum ook nie te woord staan nie.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het erken “dinge kan nie só aangaan nie”.

Ratau het gesê die departement het geld nodig om die situasie “om te keer”.

“Dit sal verbeter, maar dit gaan tyd en geld kos,” het hy gesê.

Volgens hom is sy departement, Randwater en Emfuleni (wat tans onder gedeeltelike administrasie is) besig om ’n plan van aksie uit te werk.

Pawson het gesê AfriForum gaan David Makhura, premier van Gauteng, nou “teiken”.

Intussen het die nie-regeringsorganisasie Save the Vaal (Save) ’n massavergadering vir Saterdag belê om te besluit wat die “pad vorentoe” is vir Emfuleni. Save het in die verlede talle hofbevele teen die Emfuleni- plaaslike owerheid gekry, maar dit is tot dusver almal geïgnoreer.

Meer oor:  Afriforum  |  Emfuleni  |  Vaalrivier  |  Riool  |  Vis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.