Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Agente ‘kos’ Vrystaatse staatskas meer as R1 mjd.

Verskeie “implementeringsagente” is tydens Ace Magashule se premierskap op onregmatige kontrakte in Vrystaatse provinsiale departemente en munisipaliteite aangestel.

Ace Magashule, onder wie se premierskap implementeringsagente aangestel is. Foto: Netwerk24

Hulle het ook gesamentlik meer as ’n miljard rand uit opgeblase kontrakte verdien.

Daarom gaan die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, ook sy aandag hierop vestig, word betroubaar verneem.

Implementeringsagente is dikwels aangestel sonder om die nodige prosesse vir tenders of voorkeuraankope te volg en omdat hulle ook dikwels danksy hul vriendskapsbande eerder as hul kundigheid aangestel is.

Elzabé Rockman, voormalige Vrystaatse LUR vir finansies, wat onlangs voor die Zondo-kommissie getuig het, sê die beste voorbeeld hiervan is die Estina-maatskappy, wat met die Guptas verbind word, wat die Vrede-suiwelprojek in werking moes stel.

Geen tender is gevra toe Estina deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling aangestel is nie.

Regter Raymond Zondo het gesê hy is onder die indruk dat die klassifikasie van betalings van die Vrystaatse landboudepartement wat aan implementeringsagente oorgedra is, ’n manier was om prosesse vir voorkeur-aankope te omseil, alhoewel dit nie sy finale indruk is nie.

Rockman het aan die kommissie gesê dat die klassifikasie van die betalings as oordragte beteken het dat geen voorkeuraankope-prosesse gevolg hoef te word nie, en dat dit ’n groot bekommernis was wat die OG toe reeds ’n aantal jare lank geopper het.

In die departement landbou en landelike ontwikkeling se finansiële state van die boekjaar 2017-’18 wys die OG daarop dat R311 miljoen van die geld wat op die Estina-maatskappy uitgegee is, moontlik as onreëlmatig beskou kan word omdat geen tenderprosesse met die aanstelling van die maatskappy gevolg is nie.

Die ouditeur-generaal (OG) het uitgewys dat R816 miljoen wat die Vrystaatse departement landbou en landelike ontwikkeling tot met sy 2017-’18-oudituitkomste aan implementeringsagente betaal het, moontlik onreëlmatig kan wees omdat die aanstellings nie deur die voorkeuraankope-prosesse was nie. Verder kan die R311 miljoen wat aan die Gupta-gekonnekteerde Estina-maatskappy, die implementeringsagent van die omstrede Vrede-suiwelprojek betaal is, ook onreëlmatig wees omdat die kontrak nie op tender uitgegaan het nie. Foto: Uit finansiële state
Van die implementeringsagente se name is Dikopo Construction, E’Tsho Civils en Rekgonne Community Projects. Foto: Uit finansiële state
Bernard Phitsane, goeie vriend van Ace Magashule, die voormalige Vrystaatse premier, wat erken dat sy Dikopo Construction-maatskappy al as implementeringsagent vir die Vrystaatse provinsiale regering gewerk het. Maar hy sê die kontrak was per tender toegeken en daar was niks onreëlmatigs nie. Die regte prosesse is gevolg. Foto: Bloemwater

Dit is bo en behalwe die R816 miljoen wat tot die 2017-’18-boekjaar vir implementeringsagente in dieselfde departement betaal is en wat die OG ook as ’n moontlike onreëlmatigheid uitwys het omdat die regte prosesse vir voorkeuraankope nie gevolg is nie.

Die OG gaan dus ook, soos die Zondo-kommissie, ondersoek instel.

Die drie Vrystaatse departemente wat implementeringsagente gebruik het, is landbou, ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), asook die departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie.

Andrew Visagie, woordvoerder van die departement van die Vrystaatse tesourie, asook Zimasa Leputla, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou en landbou-ontwikkeling, het ná twee dae en ná verskeie beloftes nog nie op Netwerk 24 se vrae hieroor geantwoord nie.

Skerp vrae word intussen ook in regeringskringe gevra oor implementeringsagente wat studente se verblyf in die buiteland moet betaal wanneer hulle met beurse van die Vrystaatse provinsiale regering studeer.

Van die implementeringsagente wat die Vrystaatse provinsiale regering al in die algemeen gebruik het of steeds gebruik, is onder meer E’tsho van Tlale Mokgadi wat die Vrede-suiwelplaas se koeie teen R1 miljoen per maand gemelk het, Dikopo Construction van Bernard Phitsane en Rekgonne Community Projects van Peggy Mohapi.

Phitsane, ook voorsitter van die Bloemwaterraad, het by navraag gesê Dikopo het in 2017 werk vir die Vrystaatse landboudepartement gedoen, maar werk nie meer daar nie nadat ’n dispuut verklaar is.

“Ons kontrak is deur ’n tenderproses bekom. Die boeke kan oopgemaak word. Daar is niks om weg te steek nie,” het hy gesê.

Peggy Mohapi van die Rekgonne Business Community Projects (links), wat as implementeringsagent vir die Vrystaatse provinsiale regering werk, en Seipati Dlamini, voorheen finansiële hoofamptenaar van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, wat beskuldigde nr. 2 was in die eerste ronde inhegtenisnemings weens die omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat is hier op ’n regeringsontbyt.
Elzabe Rockman. Foto: Facebook

Intussen het Ben van Niekerk, voormalige provinsiale ouditeur en deeltydse boer, gesê projekte soos die Vrede-suiwelprojek moes met die nodige kundigheid aangepak gewees het, wat kommersiële boere, die georganiseerde landbou en die opkomende boere insluit, sodat hulle nie net met tegniese kennis nie, maar ook met finansiële, bestuurs- en bemarkingskennis toegerus kon word.”

Of Estina as implementeringsagent, wat net R16 in sy bankrekening gehad het toe hy aangestel is, al die kundigheid gehad het, is ’n ope vraag.

David van Vuuren, DA-LPW en lid van die komitee vir openbare rekeninge, sê dit voel vir die DA of die aanstel van implementeringsagente ’n manier is om geld uit die provinsie se koffers te laat syfer.

“Dit is baie onrusbarend dat die implementeringsagente weier om toepaslike dokumente aan die komitee vir openbare rekeninge en die OG te verskaf om rekenskap te gee van hoe die geld aangewend is.

“Dit is ook baie duidelik dat die departemente die implementeringsagente beskerm deur nie druk op hulle te plaas om verantwoording te doen nie.

“Weens die dispuut tussen die departement van landbou en die OG oor of implementeringsagente verantwoording moet doen, het die departement van landbou versuim om sy jaarstate in die Wetgewer ter tafel te lê. Dit het ook die OG genoodsaak om self die ouditverslae van die departement bekend te maak.”

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Staatskas  |  Staatskaping  |  Kontrakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.