Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Al meer kla oor haweloses in Kaap: So kan jy metro help

Daar is ’n beduidende toename in die getal klagtes wat inwoners van die Kaapstad-metro oor hawelose mense indien.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het verlede week hawelose mense op straat besoek om te hoor of daar goed na hulle omgesien word. Foto: Verskaf

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, sê dié klagtes wissel van oop vure en geraas tot openbare versteuring.

Die metroraad doen “alles moontlik” om maatskaplike bystand aan hawelose mense te verleen ten einde die probleme hok te slaan.

Volgens die metroraad se jongste opname in November 2018, beloop die metro se bevolking wat op straat bly, nou net meer as 6 000. Sowat ’n derde hiervan woon in skuilings in die metropool.

“Niemand behoort op straat te woon nie,” sê Plato.

“Dit is vir my duidelik dat dwelms ’n groot rol speel in die rede waarom baie mense op straat beland.”

Plato het verlede week saam met amptenare van Kaapstad-metro se herintegrasie-eenheid met hawelose mense gaan praat oor hul ervaring met die herintegrasie-eenheid. Hulle het gepraat met hawelose mense in die Kaapstadse sentrale sakedistrik en ook by Groenpunt, Durbanville en langs die N1 en die N2 ’n draai gaan maak.

As ’n “omgeestad” werk amptenare van die Kaapstad-metro se eenheid vir herintegrasie elke dag om gewillige individue met skuilings in aanraking te bring, families waar moontlik te herenig, mense te help om ID’s te kry en aansoek te doen vir maatskaplike toelae, werkopleiding en deelname aan die uitgebreide openbarewerkeprogram, sê die metroraad in ’n verklaring.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, besoek verlede week saam met amptenare van die Kaapstad-metro se herintegrasie-eenheid hawelose mense. Foto: Verskaf

Hawelose mense word ook met hul verslawing gehelp deur middel van die Matrix-program.

In April vanjaar het die eenheid vir herintegrasie gehelp dat 220 haweloses by die uitgebreide openbarewerkeprogram betrokke raak, 95 mense in skuilings of veiliger ruimtes geplaas word en 16 mense met hul gesinne herenig. Die eenheid was in kontak met 736 mense wat op die straat bly en het 983 opvolgbesoeke gedoen.

Daar is het ook op 1 107 klagtes van inwoners gereageer.

Dr. Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens en veiligheid, sê die koronaviruspandemie het ’n regstreekse impak op hawelose mense gehad “weens die ekonomiese nagevolge van die pandemie, en die toename in geslagsgegronde geweld, middelmisbruik en ander maatskaplike kwale”.

Hy sê inwoners kan help deur geld te skenk aan die Give Dignity-veldtog waardeur veral in die wintermaande na hawelose mense omgesien word.

’n Lid van die Kaapstad-metro se herintegrasie-eenheid praat met hawelose mense in Durbanville. Foto: Verskaf

“Ons moet die siklus van afhanklikheid van goed wat regstreeks gegee word, beëindig,” sê Badroodien.

“Met die Give Dignity-veldtog word daar gestreef na alternatiewe maniere om mense volhoubaar van die straat af te hou, maniere wat ’n groter impak sal hê.”

Badroodien sê dis belangrik dat skenkings herintegrasie aanmoedig, en dat dit regstreeks gaan na diegene wat hulle daartoe verbind het om hul lewe weg van die straat af te herbou.

“Ons moedig inwoners aan om geld aan die Give Dignity-veldtog te skenk en om hawelose mense na ons maatskaplike ontwikkelingsdepartement te verwys,” sê Badroodien.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, praat met hawelose mense in die Kaapstadse sentrale sakedistrik. Foto: Verskaf

Sheron Matipedza, ’n werker by MES, ’n organisasie sonder winsbejag wat ook met hawelose mense werk, sê waar hulle in Bellville werk, het die getal haweloses beslis toegeneem.

“Ons help maar waar ons kan,” sê sy. “Ons bied skuilings waar mense R10 per nag moet betaal. Ons gee ook kos aan hawelose mense as die geld daar is, maar ons maak meestal op skenkings staat.”

Plato sê die Kaapstad-metro sal voortgaan om uit te reik na die hawelose mense en terselfdertyd seker maak dat reg en orde ook gehandhaaf word.

“Dit is nie ’n misdaad om arm te wees of deur ’n moeilike tyd te gaan nie, maar elke inwoner moet die wet nakom,” sê Plato.


Meer oor:  Haweloses  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.