Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
ANC betrek Msimanga se broer by diefstal van rekenaars

’n Jonger broer van Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng en voormalige burgemeester van Tshwane, is Vrydag geïmpliseer by die diefstal van rekenaars by die Tshwane-metroraad.

Solly Msimanga, voormalige burgemeester van Tshwane en huidige premierskandidaat vir Gauteng, se jonger broer word geïmpliseer by die diefstal van rekenaars. Foto: Deaan Vivier

Die ANC het Vrydag beweer Nkululeko Msimanga het sowat 100 rekenaars uit die raadsgeboue geneem en dat die hele voorval op ’n kringtelevisiekamera vasgelê is.

John Moodey, Gautengse leier van die DA, het egter dié bewerings ten sterkste ontken in ’n verklaring.

Volgens Lesego Makhubela, ’n ANC-woordvoerder in Gauteng, het Nkululeko glo die rekenaars in 2016 oor die verloop van ’n paar maande gevat.

Dit het aan die lig gekom toe munisipale amptenare snuf in die neus gekry het en met ’n ondersoek begin het, sê Makhubela.

Hy het aangedring dat die nasionale polisiekommissaris self ’n oog oor die saak hou sodat dit behoorlik ondersoek kan word.

Makhubela vra ook vir ’n ondersoek om vas te stel of Nkululeko bevoeg was om die werk te doen waarvoor hy aangestel is.

Hy sê dit is vir die ANC duidelik dat Msimanga ’n “kleptokratiese regering” bedryf het uit die stadsraad deur “ongekwalifiseerde, onervare en ongeskoolde familielede, vriende en wit DA-lede” aan te stel.

Moodey sê op sy beurt in die verklaring die DA kon geen bewyse kry “van ’n sogenaamde inhegtenisneming nie”.

Hy het by die ANC aangedring om met bewyse vorendag te kom.

Volgens Moodey was Nkululeko in 2015, voordat die DA-koalisie beheer geneem het oor die stadsraad, ’n inkomste-konsultant.

In dié stadium kan ons nie kommentaar lewer nie. Ook nie oor die identiteit van die slagoffer en die verdagte nie . . . omdat die saak nog nie voor die hof gebring is nie.
Kapt. Augustinah Selepe, ’n polisiewoordvoerder

Lindela Mashigo, woordvoerder van die stadsraad, het Vrydag gesê twee klagte is by polisie in Pretoria ingedien nadat twee rekenaarbokse in Maart gesteel is.

Die een is op 12 Maart om 15:20 uit die gebou geneem en in ’n voertuig gelaai en toe is daar op 19 Maart weer een gevat.

Mashigo wou nie sê wie die verdagte is en of dit iemand is wat bande met Msimanga het nie.

Kapt. Augustinah Selepe, ’n polisiewoordvoerder, het Vrydag by navraag aan Netwerk24 gesê die polisie ondersoek nog die saak, maar niemand is in hegtenis geneem nie.

“In dié stadium kan ons nie kommentaar lewer nie. Ook nie oor die identiteit van die slagoffer en die verdagte nie . . . omdat die saak nog nie voor die hof gebring is nie,” sê Selepe.

Msimanga het Vrydagaand aan Sesona Ngqakamba van News24 gesê as daar enige meriete in die saak is, moet die gereg sy loop neem.

Hyself samel nog al die feite in, maar meen nie soveel rekenaars is in Maart vermis soos wat die ANC-koukus in ’n verklaring beweer nie.

“Soos wat ek die verklaring lees, is daar ’n klomp strooi in,” sê Msimanga.

Hy het gesê nie hy of sy administrasie het sy jonger broer aangestel nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Solly Msimanga  |  Diefstal  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.