Die diensleweringskrisis in die Dihlabeng-munisipaliteit (Bethlehem) kan voor die deur van die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Thembeni Nxangisa, gelê word.

Bethlehem is vuil, vervalle en ly onder swak dienslewering, sê inwoners. Foto: Verskaf
So sê Jafta Mokoena, die DA se sweep in die raad.
Mokoena sê Nxangisa se tussentydse hofinterdik teen die verkose speaker, Eric Motloung (DA-lid), lê die munisipaliteit lam.
Motloung is begin November tot speaker verkies nadat ’n groep ANC-raadslede saam met die opposisie vir hom gestem het.
Die ANC was glo nie hiermee geneë dat van sy raadslede vir ’n DA-speaker gestem het nie en Nxangisa het die hooggeregshof genader vir ’n bevel wat Motloung verbied om sy pligte as speaker uit te voer.
Mokoena sê Nxangisa het op 21 Desember die hofbevel bekom en sedertdien word die raad lamgelê.
Volgens die voorlopige hofbevel mag Motloung nie enige vergaderings reël of sy normale take as speaker uitvoer nie.
Mokoena sê dit het nou daartoe gelei dat geen raadsbesluite tydens die huidige krisis geneem kan word nie. Hy sê die waterkrisis, wat al ’n derde week voortduur en in sommige gebiede veel langer, kan nie opgelos word sonder dat dringende besluite geneem word nie.
Hy sê ook Bethlehem se infrastruktuur verval toenemend en dat die strate onbegaanbaar is, rioolvuil die dorp besoedel en dat inwoners óf geen water het nie, óf erg besoedelde water.
Volgens Mokoena kan die raad weens die hofbevel ook nie ’n nuwe finansiële hoof aanstel nie.
Daar moet ook in Januarie ’n raadsvergadering gehou word omdat die ouditeur-generaal sy verslag aan die raad moet voorlê.
Hy sê die munisipaliteit kan tans glad nie funksioneer nie weens Cogta se inmenging en voortslepende faksiegevegte binne die ANC.
Die DA-koukus het ’n dringende versoek aan die waarnemende stadsbestuurder gerig om ’n spesiale raadsvergadering te reël.
Die DA-koukus in Dihlabeng het ook die DA-lede in die provinsiale wetgewer gevra om die Vrystaatse premier te nader sodat sy kan ingryp.
https://www.netwerk24.com/Nuus/Munisipaliteite/dorpe-sonder-water-in-sopnat-vrystaat-20210106