Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
ANC-raadslid sonder salaris geskors oor hy Cyril slegsê

’n Vrystaatse ANC-raadslid wat homself ewe voorstel op ’n stemboodskap waarin hy dan in ongure taal vir pres. Cyril Ramaphosa beledig, is vir drie maande sonder salaris geskors.

Thembeni (Skully) Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê hy het “met skok” kennis geneem van die uitlatings deur Tsietsi Motlokoa, raadslid van wyk 30 in Maluti-a-Phofung, oor Ramaphosa op sosiale media.

Hy het Motlokoa geskors nadat hy met hom gepraat het oor sy optrede.

Netwerk24 het Motlokoa Donderdag verskeie kere gebel om kommentaar, maar hy het telkens net “hallo, hallo” gesê en dan sy foon doodgedruk.

Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaat, sê die voorval het hom geskok. Foto: Argief

Nxangisa sê Motlokoa gebruik gekruide taal in die stemboodskap waarin hy Ramaphosa selfs uitdaag om dissiplinêre stappe teen hom te doen.

Zolile Lobe, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaat, sê namens Nxangisa in ’n verklaring nadat Nxangisa die stemboodskap gehoor het, het hy gemeen dit is nodig om met die raadslid te praat sodat hy kon verstaan wat die rede vir dié optrede was.

Nxangisa het ook vir adv. Monise Ponoane gevra om die kwessie te ondersoek ten opsigte van die gedragskode vir raadslede soos dit in wetgewing uiteengesit word.

Lobe sê ná ’n gesprek met die raadslid het hy sy spyt oor sy optrede uitgespreek.

Die LUR glo in die gees van samewerkende regering moet die gedrag van raadslede altyd wys dat daar ’n wil is om saam te wil werk en in die beste belang (van almal) op te tree.

Hierna het Nxangisa hom vir drie maande sonder salaris geskors.

Motlokoa is ook gelas om ’n verklaring uit te reik waarin hy Ramaphosa, sy familie, die gemeenskap van Suid-Afrika en al die inwoners van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit om verskoning vra.

Lobe sê volgens Nxangisa is raadslede die gesig van die regering en moet hul gedrag onberispelik wees.

“Die LUR glo in die gees van samewerkende regering moet die gedrag van raadslede altyd wys dat daar ’n wil is om saam te wil werk en in die beste belang (van almal) op te tree.”

* Intussen het die ANC in die Thabo Mofutsanyana-streek (Oos-Vrystaat) in ’n verklaring gesê hulle is diep bekommerd oor die rondstuur van stemboodskappe op sosiale-media-platforms wat geassosieer word met ’n spesifieke raadslid in Maluti-a-Phofung.

Malefu Vilakazi, koördineerder van die streektaakspan in die Thabo Mofutsanyana-streek, en Thabo Mokoena, woordvoerder van die streek, sê in die verklaring die stemboodskappe “is neerhalend en beledig die president van die ANC”.

“Die ANC van die streek distansieer hom van die gedrag en veroordeel dit ten sterkste. Die gedrag het geen plek in die hernuwing van die organisasie nie en wys op swak dissipline en bring ’n vreemde kultuur van galbraak en belediging na die party.”

Daar word ’n beroep op raadslede en lede van die ANC gedoen om hulle van dié soort optrede te weerhou.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Vrystaat  |  Uitlatings  |  Sosiale Media  |  Raadslid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.