Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Baai se begroting ‘slegte nuus vir inwoners’

Dit het vyf probeerslae en ’n raadslid sy amp as ’n burgemeesterskomiteelid gekos, maar die koalisieregering in die Nelson Mandelabaai-metro het Vrydag oplaas die 2019-’20-begroting goedgekeur.

Die Patriotic Alliance se Marlon Daniels (links) stem Vrydag op die Nelson Mandelabaai-metro se raadsvergadering ten gunste van die 2019-’20-begroting. Langs hom sit Andile Lungisa, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, wat ook sy steun vir die begroting aandui. Foto: Lulama Zenzile

Met die sperdatum van 30 Junie het Mongameli Bobani, burgemeester, erken hy het gesweet om die groen lig vir die begroting te kry.

Die haakplek was dat die koalisieregering en die opposisie elk 60 setels in die raad het en minstens 61 stemme nodig is om die begroting goed te keur.

Hoewel die Patriotic Alliance se Marlon Daniels ook aanvanklik teen die begroting gekant was, het hy op Vrydag se raadsvergadering sy gewig agter die koalisieregering gegooi.

Dié ommeswaai van Daniels kom nadat Bobani hom vroeër die week as die nuwe burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou aangestel het en een van sy bestaande burgemeesterskomiteelede, Lutho Suka, uitgeskuif het.

Met die metro se kapitaal-en-bedryfsbegroting van R12,6 miljard goedgekeur, beteken dit die metro se belastingbetalers sal van aanstaande maand tussen 7,5% en 13% meer vir munisipale dienste moet opdok.

Athol Trollip, DA-koukusleier in die metro, het kort ná die raadsvergadering ’n verklaring uitgereik waarin hy sê die meerderheid van die metro se inwoners gaan hulle weens dié begroting in ’n neerdrukkende finansiële posisie bevind.

“Ons glo nie die verwagte kapitaalbesteding in die begroting is realisties nie, veral in vergelyking met die huidige ellendige besteding, wat elke inwoner van die metro raak. Hierdie soort droewige bestedingsgedrag sal die dienslewering negatief beïnvloed en die metro sal uiteindelik ongebruikte toelaes verloor,” lui Trollip se verklaring.

Ons glo nie die verwagte kapitaalbesteding in die begroting is realisties nie, veral in vergelyking met die huidige ellendige besteding, wat elke inwoner van die metro raak.
Athol Trollip, DA-koukusleier in die metro

Die DA was veral teen dié begroting gekant weens die “enorme verhoging van tariewe in die huidige ekonomiese klimaat”.

Trollip sê indien die koalisieregering se huidige droewige prestasie van kapitaaluitgawes voortduur, sal dit eenvoudig beteken dat belastingbetalers en sakelui meer aan tariewe en munisipale dienste betaal, maar minder dienslewering kry.

Hy het egter die versekering gegee dat die DA, as die amptelike opposisie, sy toesigrol sal uitvoer en verseker dat belastingbetalers, “wat belas word met meer as die inflasionêre verhogings”, minstens waarde vir hul geld kry.

Tariefverhogings vir die Nelson Mandelabaai-metro:

  • Eiendomsbelasting – 7,7%;
  • Water – 7,5%;
  • Sanitasie – 7,5%;
  • Vullisverwydering – 7,5%; en
  • Elektrisiteit – 13,04% (afhangende van die Nasionale Energiereguleerder se goedkeuring)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.