Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Baai steeds sonder finanshoof

’n Tweede poging om ’n finansiële hoof vir die Nelson Mandelabaai-metro aan te stel, was Vrydag onsuksesvol nadat ’n spesiale raadsvergadering verdaag is toe daar nie ’n kworum teenwoordig was nie.

Raadslede van die DA en ander opposisiepartye, soos die ACDP, het Vrydagoggend geweier om die raadsaal binne te gaan. Met die afwesigheid van die ANC-raadslid Bongo Nombiba – wat verlede week sy tronkstraf van vyf jaar vir bedrog en geldwassery begin uitdien het – het die koalisieregering nie die nodige meerderheid gehad nie.

Mongameli Bobani (links), burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, en Marlon Daniels (regs), van die PA, praat Vrydagoggend met Tshonono Buyeye (middel), adjunkburgemeester, voor die begin van die raadsvergadering. Foto: Lulama Zenzile

Verlede Vrydag was dit ’n soortgelyke geval. Die DA, ACDP en Cope het die vergadering verlaat toe die speaker, Buyelwa Mafaya, besluit het dat wantrouemosies teen haar en die burgemeester, Mongameli Bobani, nie aangehoor gaan word nie.

Ná Vrydag se onsuksesvolle raadsvergadering het Bobani gesê die DA speel met mense se lewe deur die “enigste struikelblok” te wees in die pogings om ’n finansiële hoof aan te stel.

Athol Trollip, die DA se koukusleier in die metro, het Vrydag gesê die DA se standpunt oor die aanstel van ’n finansiële hoof is onveranderd en hulle sal ’n bekwame, geskikte en gekwalifiseerde kandidaat vir die amp ondersteun, maar hulle kan die stad se begroting en toelaagbegrotings nie ’n dag langer aan Bobani toevertrou nie.

Trollip sê ná verlede week se raadsvergadering het die DA ook ’n brief van vier blaaie aan die speaker geskryf om hul griewe te lug oor gebeure op daardie vergadering.

Volgens hom het die DA ook eers ’n uur nadat die raadsvergadering Vrydagoggend begin het ’n dokument ontvang met die CV’s en inligting van potensiële kandidate vir die pos as finansiële hoof.

“As daar enige vrae is oor hoekom die DA nie in raadsvergadering is nie, hierdie is die rede. Die tweede rede is die feit dat ons nog geen terugvoering van die speaker ontvang oor die brief wat ons verlede Vrydag aan haar geskryf het nie.”

Mafaya kon nie Vrydag onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Lance Grootboom van die ACDP het Trollip se siening beaam: “Solank as wat Bobani burgemeester is, sal die ACDP nie die raadsvergaderings bywoon nie. Ons wil hom verwyder hê.”

Grootboom sê wat hom verder grief, is dat veranderinge aan die agenda vir Vrydag se raadsvergadering aangebring is, maar hul wantrouemosie nie bygevoeg is nie.

“Die opposisieparty is duidelik oor wat hulle wil hê, ons gaan nie die raadsvergadering ondersteun tot ons kry wat ons wil hê nie.”

Bobani het by navraag erken die nasionale tesourie se ultimatum aan die metro spook by hom. Die opdrag is om iemand heeltyds aan te stel of die metro loop die risiko dat enige aansoeke om toelaes wat oorgedra word afgekeur gaan word.

“Sonder toelaes gaan ons dienslewering en die mense van die stad benadeel word.

“Hierdie saak moet nie ’n politieke een wees nie. Die raadslede moet aan die inwoners dink, maar dit is duidelik ons kan nie op die DA se samewerking staatmaak nie.

“Indien nodig sal die koalisieregering wag vir die tussenverkiesing om Nombiba se amp te vul voor ’n volgende poging om ’n finansiële hoof aan te stel.”

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Politiek  |  Munisipaliteite  |  Da  |  Finansiële Hoof  |  Anc  |  Acdp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.