Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Balanstoertjie’ om water in dorre Vrystaat te voorsien

’n Balanseertoertjie is aan die gang om te midde van erge droogtetoestande water aan verskeie dorre Vrystaatse dorpe en streke en die Mangaung-metro in Bloemfontein te voorsien.

Dr. Tseliso Ntili. Foto: Netwerk24

Die Katsedam se water vanuit Lesotho word reeds weer sedert Sondag ingespan om die Wilgerivier in die Vrystaat te voed waaruit Vrystaatse dorpe soos Frankfort in die noorde nou water kry. Dit is nadat die Katse-tonnel wat twee maande lank gesluit was, weer oopgestel is. Ook Gauteng kry nou weer Katse-water.

So sê dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van waterwese en sanitasie.

Hy sê die hittegolf die laaste tyd het die Vrystaatse damvlakke geweldig laat daal, terwyl die departement kliphard werk om seker te maak almal kry water. “Dis eintlik ’n balanseertoertjie,” sê hy.

Ntili sê hy besoek Dinsdag Bethlehem en ander Oos-Vrystaatse dorpe wat ernstige waterkrisisse ervaar en sal ook in Qwaqwa gaan draai om te kyk wat aan die probleme daar gedoen kan word. Die waterkrisis hier is geweldig erg en water word met sowat 30 vragmotors na inwoners aangery.

“Die Setsoto- munisipale gebied, Ficksburg, Clocolan en Marquard het ook nou ernstige waterprobleme en ervaar groot waternood,” sê hy.

Philip Strydom, DA-raadslid in dié munisipaliteit, beaam dit. “Marquard het nie meer water nie,” sê hy.

Hy sê sowel die Meulspruitdam as die Nuwehoopdam is dolleeg en die Caledonrivier waaruit die laaste paar maande water onttrek is, is ook droog.

Hy sê die Setsoto-munisipaliteit probeer om die ou boorgate weer funksioneel te kry, maar elektriese kabels en pompe is gevandaliseer of gesteel.

“Boere ry vir ons water van plase aan. Die munisipaliteit ry ook van Clocolan af water aan. Dit is eintlik ’n chaos.”

Strydom sê die Meulspruitdam se sluis is al jare lank stukkend. “Ons het hieroor vertoë gerig waaraan niks gedoen is nie.”

Boere ry vir ons water van plase aan. Die munisipaliteit ry ook van Clocolan af water aan. Dit is eintlik ’n chaos.

* Ntili sê Bloemfontein se waterprobleme wat die noordelike woonbuurte betref, is vir eers opgelos nadat ’n groot hoeveelheid water Vrydagoggend uit die Rustfonteindam na die Mockesdam vrygelaat is.

Hy sê heelwat water is ook nou uit die Knellpoortdam vir die Welbedachtdam by Wepener vrygestel, sodat almal in die streek geholpe kan raak.

* Intussen sê Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, ’n pyplekkasie is die naweek aan die hoofwatertoevoerpypleiding naby die Uitkyk-reservoir buite Bloemfontein ontdek. Dit moet dringend herstel word.

Hy sê die span sal Maandagaand om 23:00 aan die pypleiding begin werk. Dit sal ongeveer 36 uur neem om die pyp te herstel. Die werk behoort teen Woensdagaand afgehandel te wees.

Khedama verseker inwoners dat die reservoirs gevul sal wees voordat die werk begin om seker te maak dat daar nie wateronderbrekings gaan wees nie.

Watertenkwaens sal uitgeplaas word.

* Mokete Duma, hoof van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê die name van vyf Vrystaatse munisipaliteite is by die nasionale rampbestuursentrum aangemeld sodat hulle vir hulp van die nasionale regering in aanmerking kan kom.

Bepaalde raadsbesluite moet egter eers geneem word.

Dié vyf munisipaliteite is: Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling), Maluti-a-Phofung (Qwaqwa, Kestell en Harrismith), Xhariep (Trompsburg, Bethulie, Gariepdamdorp en nog Suid-Vrystaatse dorpe), Mokhaka (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon) en Ngwathe (Parys, Edenville, Koppies, Heilbron en Vredefort.)

Duma sê in dié stadium word boorgate met die hulp van Gift of the Givers in Qwaqwa en die res van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit geboor.

Meer oor:  Tseliso Ntili  |  Vrystaat  |  Bloemfontein  |  Droogte  |  Water  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.