Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bedrog in Phalaborwa ‘veel meer as R30 m. wat ondersoek word’

Die tenderbedrog in die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit “is veel meer as die R30 miljoen wat tans ondersoek word”.

Dit is die mening van die DA asook raadslede van die munisipaliteit nadat die Valke in Limpopo Vrydag in ’n verklaring gesê het hulle het beslag gelê op skootrekenaars en dokumente by die munisipaliteit en dat die ondersoek na bedrog en korrupsie hier voortduur.

Die munisipaliteit is reeds in 2014 onder administrasie geplaas. Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeondernemings en tussentydse minister in die presidensie, is al betrek by bedrog in die munisipaliteit toe sy in 2009 die munisipale bestuurder hier was.

Inwoners sit soms vir dae aaneen sonder water of elektrisiteit en, volgens Sybrandt de Beer, ’n DA-raadslid, is ’n skool vir leerlinge met geestesgestremdhede Donderdag gesluit omdat rioolvuil by die skool inloop.

De Beer sê hy het in Februarie 317 waterlekke aangeteken en die munisipaliteit se oortydrekening vir die maand beloop reeds meer as R1 miljoen.

Hy sê verder dat toerusting gehuur word van maatskappye wie se winsmarge tussen 100% en 300% is.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê die munisipaliteit verkeer al “baie jare onder swak finansiële bestuur en dit is wat tot sy val gelei het”.

Volgens Smalle het die ouditeur-generaal bevind dat R450 miljoen se onreëlmatige finansiële uitgawes die afgelope twee jaar plaasgevind het.

“Daar is R59,6 miljoen se onreëlmatige bestuurspraktyke wat nog nooit ondersoek is nie. Daar is ’n doelbewuste poging van die administrasie, senior amptenare en politici om dit nie te ondersoek nie.

“Die DA verwelkom die Valke se ondersoek, maar die R30 miljoen (wat ondersoek word) kan net vir een of twee kontrakte wees. Ons hoop dat alles ondersoek sal word,” sê Smalle.

Manie Kriel, ’n voormalige ANC-raadslid van die munisipaliteit wat al sedert 1967 op die dorp woon, beweer die munisipaliteit gee geld roekeloos uit.

“Hulle het byvoorbeeld onlangs ’n bandsaag se lem en bedekking gekoop vir R186 000 terwyl dit eintlik R1 860 kos. Wanneer bedrae onder R200 000 is, hoef hulle nie die gewone tenderprosesse te volg nie. Dit raak belaglik,” sê Kriel.

Hy sê ook die bedrog strek verder as die R30 miljoen wat tans ondersoek word. Dis uiteindelik die inwoners wat daaronder lei.

“Hier is nie ’n straat sonder slaggate nie en oor die Kerstyd was ons krag vyf dae lank af.”

Die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit het nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.