SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Begroting maak mense net armer in Mangaung

Die begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan van die Mangaung-metro wat Vrydag op ’n raadsvergadering goedgekeur is, dien slegs die ANC-raad, hul politieke basisse en politieke meelopers.

So sê dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, in ’n verklaring.

Snyman van Deventer sê die VF Plus het teen die begroting gestem.

Elizabeth Snyman van DeventerFoto: Facebook

“Die sogenaamde begroting vir armes dien nie die weerloses in die metro nie. Dit is duidelik uit Moody’s se oorweging om die metro tot rommelstatus af te gradeer. Die redes wat deur die graderingsagentskap aangevoer word, is onder meer:

* Die voortslepende swak operasionele en likiditeitsvermoë van die munisipaliteit;

* Die verhogings op bedryfsuitgawes van meer as 7% per jaar wat plaasvind;

* drie jaar se negatiewe operasionele en inkomstebalanse;

* Die 83% van die debiteure-rekeninge wat meer as 90 dae agterstallig is.

Sy sê die ANC misluk jaar ná jaar om by die begroting te bly; die geïntegreerde ontwikkelingsplan is jaar ná jaar dieselfde dokument met ’n aangepaste datum.

Intussen is die ANC planloos om ontwikkelings soos die Bloemfonteinse dieretuin, die N8-deurgangsroete en die geïntegreerde stedelike vervoerstelsel af te handel.

“Inwoners kry geen waarde vir die duisende rande wat vir konsultasies en beplanning gebruik is nie.”

Sy sê terwyl die ANC aanhou om Mangaung se finansies soos ’n bodemlose pit te misbruik, sal belastingbetalers in die komende boekjaar ’n verhoging op munisipale tariewe moet betaal wat meer as die inflasiekoers is.

“Die gemiddelde 10%-verhoging wat die begroting voorstel, is nie ten gunste van arm mense nie. Dit verarm net alle inwoners.

Terwyl wykstoelae in die metro nie meer bestaan nie, is daar nie kontant beskikbaar vir dienste wat in die metro se gemeenskappe gelewer moet word nie.”

Sy sê intussen word dienste nie behoorlik gelewer nie en vooruitgang in die metro is onmoontlik.

“Mangaung verval daagliks onder die ANC se swak beleid. Inwoners en die burgerlike samelewing moet self dienste lewer, terwyl die ANC misluk.

“Die VF Plus sal aanhou om weerstand te bied teen die ANC se plundering van Mangaung se geld en sorg dat die regerende party vir die inwoners werk, nie anders om nie.”

* Barnard Mononyane, raadslid van Cope, het gesê die gras op die sypaadjies is nou so lank dat voetgangers saam met die motors in die straat loop.

Die verkeersdepartement bestaan feitlik nie meer nie. “Mense parkeer oral dubbeld op straat, veral voor die provinsiale kantore van die ANC, en niemand tree op nie. Motoriste jaag oor rooi verkeersligte en die stad het onveilig geword om in te bestuur.”

Hy het ook gesê oral op straat lê hope vullis wat net so gelos word. Die hele stad, sy riviere en damme, is besoedel. Onwettige vullisstorting vind oral plaas, maar die metro tree nie op teen die mense nie.”

Hy het gesê Centlec, elektrisiteitsverspreider van die metro, hef 2% meer op krag in die winter, maar dit reflekteer nie in die begroting nie.

Mononyane het gesê hy gaan tog vir die begroting stem, omdat hy glo die metro sal dienslewering begin opskerp.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Raadsvergadering  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.