Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Bendelede se beweerde afpersing met kontrak ‘beloon’

Die voormalige burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in die Kaapse metroraad sê hy is diep geskok dat dieselfde bende wat na bewering agter die dreigemente en afpersery in die Valhalla Park-behuisingsprojek sit, nou die kontrak toegeken is om die projek te voltooi.

“Dit beteken dat afpersing werk en dit gaan my verstand te bowe,” sê Brett Herron.

Herron se kommentaar volg nadat dit aan die lig gekom het dat Nicole Stanfield, die vrou van ’n sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, Ralph Stanfield, die behuisingsontwikkelingskontrak in Valhalla Park losgeslaan het.

Die projek word reeds vir etlike jare weens plaaslike bendes se eise vir “beskermingsgeld” in die wiele gery.

Die ontwikkeling van meer as R40 miljoen is in 2016 deur die Kaapse metro bekend gestel en is daarop gemik om 777 gesubsidieerde huise aan die gemeenskap te voorsien.

Die projek is egter in die wiele gery nadat bendelede glo die metro se kontrakteur gedreig het en R300 000 per maand vir “beskermingsgeld” geëis het.

Herron, wat ten tyde van dié drama in beheer van stedelike ontwikkeling in die metro was, sê toe die projek destyds gestaak is, het die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings aangebied om ’n ander kontrakteur op sy databasis te vind.

“Dit is geheel en al ongelooflik dat die LUR nou die kontrak aan die vrou van die einste bendelid gegee het wat glo die projek in die eerste plek stopgesit het,” sê Herron.

Brett Herron, voormalige burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in die Kaapse metroraad. Foto: Danielle Karallis

Volgens hom is die DA se verkiesingsveldtog daarop gemik om ’n veiliger provinsie vir sy inwoners te skep, maar hy sê dié beloftes is pure snert as bendelede beloon word met kontrakte of projekte – selfs al is dit deur ’n eggenoot.

Volgens hom het die gemeenskap rede tot kommer.

“Dit is hoe gemeenskappe in die eerste plek hul geloof en vertroue in die regering en politici verloor het. Die DA-beheerde regering het duidelik nie die belange van die mense op die hart nie en hulle het nie die moed om dinge reg te stel nie,” sê hy.

Bonginkosi Madikizela, LUR vir menslike nedersettings, was woedend toe hy te hore gekom het van die drama met die behuisingsprojek.

Madikizela het vroeër gesê dat daar geen manier is waarop sy departement kan vasstel of ’n tenderaar verbind word met bendes of die Kaapse onderwêreld nie. Hulle maak wel seker dat tenderaars wetlik daarvoor kwalifiseer.

“Ons het eerlikwaar niks hiervan geweet nie en ons amptenare kan nie aanspreeklik gehou word vir wat ander mense doen nie,” het Madikizela vroeër gesê.

Volgens hom wil dit voorkom of die regte prosedures gevolg is met die toekenning van die tender, en die projek moet daarom voortgaan.

Maar Herron sê Madikizela kan wel optree.

“As die kontrak aan die vrou gegee is van die persoon wat na bewering die eerste kontrakteur gedreig en afgepers het, kan die LUR ingryp. Dis mos duidelike afpersing!”

Hy sê goeie leierskap vereis dat diegene wat in hoë ampte verkies is, opstaan ??en die regte ding doen.

“Daar is ooglopend ’n morele probleem met die tender wat toegeken is. Daar is opsies en Madikizela sal nou die howe moet nader om die kontrak ter syde te stel.”

Herron sê die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite plaas die verpligting op die regering en leiers om die regte ding te doen.

“Die DA hou daarvan om die etiket van korrupsie aan hul politieke teenstanders te gee, maar as dit aan hul kant is en hulle moet optree, kruip hulle weg.”

* Die Stanfields het aangedui hulle wil nie kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.