Verskeie ontwikkelingsprojekte is aangekondig om Oudtshoorn se ekonomie en toerisme ’n hupstoot te gee.
Die projekte word aangepak in samewerking met Old Mutual en PwC.
Chris Macpherson, Oudtshoorn se burgemeester, sê Covid-19 het verwoesting gesaai onder sakeondernemings en families en mense se lewensbestaan. “As ’n dorp weier ons egter om hande gevou te staan.”
Van die projekte is volgens ’n verklaring ’n sonenergie-plaas waarby private energie-entrepreneurs betrek sal word en wat ’n laer elektrisiteitsrekening vir die dorp sal meebring, die opknapping van die atletiekbaan en sportgeriewe om die dorp te bemark as ’n mekka vir sporttoerisme in die Wes-Kaap en die ontwikkeling van die dorp se vliegveld.
Macpherson sê ’n nuwe winkelsentrum-ontwikkeling, wat beleggings sal lok, sal binnekort begin. Ander ontwikkelings soos ’n nismark-winkelsentrum in Bridgton, ’n kantoor- en hotelontwikkeling en ’n private gespesialiseerde hospitaal vir bejaardes word oorweeg.
Die kapitaalinspuiting vir die dorp sal sowat R520 miljoen wees met ’n maandelikse dienste-inkomste van meer as ’n halfmiljoen rand. “Die geleenthede vir werkskepping op kort en mediumtermyn sal help om toenemende armoede te bekamp,” sê hy.
As die grootste plaaslike regering in die Klein-Karoo gaan Oudtshoorn al die moontlike doen om beleggings te lok en ’n omgewing te skep vir die dorp om sy talente ten toon te stel en vooruit te gaan, volgens hom.
Die beoogde ekonomiese ontwikkeling sal belanghebbendes van die plaaslike regering en die private sektor insluit. Vroeg in die nuwe jaar sal die dorp ook sy eie plaaslike jamboree en indaba hou met plaaslike, provinsiale en nasionale departemente wat hul dienste sal bekend stel en
plaaslike sakeondernemings wat hul produkte sal ten toon stel.